Local newsNewsNews

Huurders skuldig, seun vrygespreek van moord

Die moordenaars van Charlotte Fenn (67) van Sonlandpark het uiteindelik hul dag in die hof gekry.

*Die storie het eerste in die gedrukte weergawe van Vaalweekblad (16 Februarie) verskyn. Kry ons gedrukte koerant op Vrydae vir al die jongste nuus.

VEREENIGING. – Twee huurders wat op die Houtkop-kleinhoewe van die vermoorde Charlotte Fenn (67) buite Sonlandpark loseer het, is verlede Vrydag, 9 Februarie in die rondgaande hooggeregshof in Palm Ridge aan haar moord skuldig bevind.

Die hofsaak, wat langer as ‘n jaar geduur het, het in Februarie verlede jaar groot opslae gemaak toe Fenn, ‘n plaaslike entrepreneur wat ‘n tuindiensonderneming in die Vaaldriehoek bedryf het, spoorloos verdwyn het.

Haar uitgebrande KIA-bakkie is op ‘n plaas in die Sasolburg-omgewing gevind en haar liggaam later met skietwonde in die bosse by ‘n spoorlyn in Redan.

Quinton Edgar in die hof. Foto: Christiaan Cloete

Quinton Edgar en sy saamleefmaat, Lindsay Kirton, wat sedert Desember 2022 by Fenn op haar kleinhoewe loseer het, is albei skuldig aan moord, maar nie aan ontvoering nie.

Dit volg nadat Edgar, wat aanvanklik skuld vir die moord ontken het, vroeër vanjaar ‘n bom in die hof laat bars het toe hy skielik ‘n ander deuntjie gesing het.

Hy het erken dat hy die oorledene twee keer geskiet en daarna haar liggaam langs die spoorlyn by Redan gaan stort het.

Edgar het ook erken dat hy daarna saam met Lindsay Kirton gery het om Fenn se bakkie by ‘n plaas in die Sasolburg-omgewing aan die brand te steek, skynbaar om bewyse te vernietig.

Edgar het benadruk dat Kirton nie by was toe hy die oorledene geskiet het nie.

Lindsay Kirton gesels met Quinton Edgar in die hof. Foto: Christiaan Cloete

Dit het in Edgar se bekentenis aan die hof aan die lig gekom dat hy die oorledene bedrieg het en dat hy geld ontvang het vir ‘n sleepwa wat hy vir Fenn sou kry.

Die sleepwa het egter nooit bestaan nie en die storie was net deur Edgar gefabriseer om geld uit die oorledene te kry.

Dit was nadat Fenn hom oor die sleepwa gekonfronteer het (en sy volgens Edgar ‘n vuurwapen op hom gerig het) wat hy (die vuurwapen gegryp en) haar met haar eie vuurwapen geskiet het.

Edgar het getuig dat hy na die moord die vuurwapen met ‘n skoonmaakproduk genaamd Windowlene skoongemaak het en dit by ‘n motorvenster uitgegooi het.

Die vuurwapen is tot vandag toe nog nie gevind nie…

Quinton Edgar en Lindsay Kirton gesels in die hof met mekaar. Foto: Christiaan Cloete

Die saak het in Januarie nog ’n interessante wending geneem toe die hof bevind het dat daar geen bewyse is wat Grant du Toit, die oorledene se seun, met die moord op sy ma verbind nie.

Die staat het tydens Du Toit se borgaansoek in 2023 al erken dat bloedspatsels wat op sy klere gevind is die enigste bewyse is wat hom moontlik met die saak kan verbind.

Die klere is toe na die polisie se forensiese laboratorium vir DNS-toetse gestuur.

Nadat die uitslag van die DNS-toetse laat verlede jaar uiteindelik bekend gemaak is, het die staat toegegee dat Du Toit nie vir die moord vervolg kan word nie.

Grant du Toit (46) kort nadat hy in die hof vrygespreek is. Foto: Christiaan Cloete

Hy is reeds op 16 Januarie vanjaar vrygespreek van meeste van die aanklagte teen hom.

Hy is Vrydag wel skuldig bevind op die aanklagte van onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie, nadat die polisie glo ‘n ongelisensieerde vuurwapen (‘n ‘snake gun’ of tipe haelgeweer) in sy besit gevind het, terwyl hulle vir leidrade gesoek het wat die moordraaisel kan oplos.

Regter Jacob Mlotswa het die saak tot 29 April uitgestel vir vonnisoplegging.

 Adv. Michael Shivuri tree op namens die staat. Elliot Mogale tree op namens Du Toit, Paul Motsweni namens Edgar en Nthabising Mokoena namens Kirton.

Wyle Charlotte Fenn. Foto: Verskaf

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button