GTCoC verduidelik oor serpe in die pad
Rocking the Vaal was 'n sukses, maar daar het polemiek ontstaan oor 'n rubriek wat ek geskryf het oor serpe in die parkeerarea. GTCoC President Jaco Verwey het die saak aangespreek.
Die president van die GTCoC, Mnr Jaco Verwey het na aanleiding van my rubriek, Ek sê maar net… Dinge gebeur en almal karring net voort, wat in Vaalweekblad van 20 Maart en aanlyn op 26 Maart verskyn het, die sakekamer se ongelukkigheid met die rubriek uitgespreek.
‘n Rubriek gee die skrywer se opinie en gevoelens weer en moenie met feitelike berriggewing verwar word nie. Die rubriek, Ek sê maar net… Dinge gebeur en almal karring net voort, is dus ‘n weergawe van hoe ek as skrywer dit ervaar het en weerspieël geensins die mening of beleid van MooiVaal Media nie.
Soos ek in talle positiewe berigte vooraf en in die Vaalweekblad van 20 Maart en aanlyn van 22 Maart onder die opskrif, Wêreldrekords spat ten spyte van bloedige hitte, berig het, was die dag suksesvol en word dit as een van die grootste liefdadigheidsprojekte tot op hede in die Vaaldriehoek beskou.
Die rubriek skiet geensins die hele projek of die harde werk daaragter af nie, en ek is jammer as dit so ‘n indruk gelaat het. Soos wat ek in my artikel, Wêreldrekords spat ten spyte van bloedige hitte geskryf het: “Welgedaan aan al die organiseerders en vrywilligers wat hierdie grootskaalse projek met sukses voltooi het.”
Hiermee dan die brief soos ontvang van Mnr. Verwey:
“IS: Rocking The Vaal : Rubriek Vaalweekblad, Gerda Bruinette
Met verwysing na bogenoemde, wil die Golden Triangle Chamber of Commerce (GTCOC) graag hulle misnoeë uitspreek oor die rubriek geplaas op 26 Maart 2024 en die volgende op rekord plaas.
Die oorsprong en droom van “Rocking the Vaal” was, is en sal jaarliks wees, om die gemeenskap van die Vaaldriehoek te dien en ook betrokke te maak by moontlik die grootste liefdadigheids gebeurtenis in die land.
Hierdie droom kan ons met trots aankondig het 16 Maart 2024 by die Emerald Casino waar geword. Nie net gaan daar meer as 28 500 harte warm klop wat n gehekelde serp ontvang nie, maar is daar tussen 16 en 17 Maart bykans 12 500 mense wat ‘n warm bord kos gekry het, menigde van hulle wat nie geweet het waar hulle volgende bord kos vandaan gaan kom nie.
Ek wil namens elke organiseerder opreg DANKIE sê, vir elke hekelaar, regoor Suid-Afrika, elke potmaker, elke kaartjie wat gekoop is, elke positiewe boodskap van motivering en elke bedanking en gelukwensing na die tyd.
Hierdie is 100% ‘n Vaaldriehoekfees, gereël, sonder wins en voordeel, deur passievolle Vaaldriehoekers, vir ons gemeenskap in die Vaaldriehoek.
Ons, as Vaaldriehoek met liefdadigheid en ons liefde vir ons omgewing as ons dryfveer, het in die proses 2 Guinness Wêreldrekords gebreek. Die rekords, maak ons almal se opofferings en sukses tydloos en ewig. Iets waarna die res van die land en die wêreld daar buite kan kyk en erken: Dat ‘n gemeenskap wat saamstaan enige iets kan vermag.
Ons sien uit daarna, om volgende jaar weer Rocking the Vaal aan te bied, om sodoende die Vaaldriehoek te dien, ons ekonomie positief te beinvloed, en die land te herhinner aan ons klein groepie mense hier rondom die Vaal, wat kan SAAM-droom, SAAM-staan, SAAM-werk, en SAAM-feesvier.
Wyl Vaaldriehoekers steeds in ekstase staan oor dit wat vermag, is dit met groot hartseer wat ek die rubriek gelees het, net om te besef dat eensydige joernalistiek, wat teen die beleid van Mooivaal Media is, afbreek kan maak aan goeie intensies. Indien ek genader is, sou ons die GTCOC die vrae kon staaf met die volgende verduidelikings:
Ons doelwit vir die serpe 35 000 m was. Ons het die doelwit bereik met ‘n total van 35 520m.
Ons was reeds van die begin af bewus dat van die serpe nie aan die vereistes vir meting voldoen het nie, hulle was of gebrei en sommige was te smal of te breed. Die serpe is dan eenkant gesit.
Ons beplanning met die oorblywende serpe was bloot vir bemarking doeleindes en om dit daarna steeds te skenk aan liefdadigheid.
Alle serpe wat vanaf die veld na die hek uitgelê is, word eerste opgetel (dis lankal reeds gedoen), word gewas en word dan ook uitgedeel aan liefdadigheid;
Na beraming is daar 100 van die 28 500 serpe wat nie geskik sal wees vir liefdadigheid nie, ons gaan hulle vir diere organisasies in ons gemeenskap skenk.
Dat enige iemand wat my span organiseerders beskuldig van soeke na beroemdheid, en ‘n inskrywing in ‘n international boek, veregaande is.
Ek doen ‘n beroep dat, indien jy iemand wil beskuldig, beskuldig dan vir my. Noem my by naam, maar bel my vooraf, en vra my opinie, sodat jy die waarheid kan weet en werklik ons hart kan ken.
Ek vra persoonlik onverskoning aan elke hekelaar, wat voel ons het nie die serpe reg hanteer, of vir die doel gebruik soos belowe nie, ons het gevoel ons spog met die Vaal, die Vaaldriehoekers, die hekelaars, die inherente goedheid van die mens, en die mag van samesyn.
Ons glo vas in die Vryheid van spraak, die Vryheid van die media, en dat rakende, tersaaklike artikels die wêreld, en veral die Vaaldriehoek beter maak.
Dit grief ons dus om te versoek dat die rubriek skrywer, hierdie brief publiseer, tesame met ‘n verduideliking, en verskoning van die eensydigheid van die oorspronklike rubriek
GTCOC Groete Jaco Verwey President”



