Local newsNews

Wêreldrekords spat ten spyte van bloedige hitte

Saterdag, 16 Maart was een van die warmste dae nog, maar dit het nie die gees bederf by Rocking The Vaal nie

VANDERBILJPARK. – Rocking The Vaal se organiseerders het gesê hulle gaan dit doen, en hulle het. Saterdagaand, na ‘n dag vol opwinding, baie hitte en organisasie, is twee nuwe Guinness World Records amptelik aan Jaco Verwey en sy span oorhandig.

Die grootste potjiekospot in die wêreld het die skaal op 2 792 kg laat kreun, terwyl die wêreld se langste gehekelde serp 35 534 m gemeet het.

Daarmee is die vorige rekord met 6 404 km verbeter. Die meeste snye brood op een slag gesmeer en geëet se rekord is nog nie toegestaan nie, want die span van Guinness World Records is besig om alles haarfyn te ontleed.

Aan geesdrif was daar Saterdag geen tekort nie. Potjiekosspanne het onder kleurvolle gazebo’s vroeg reeds hul potjies aan die gang gekry.

Verskeie van die Vaaldriehoek se skole, kerke en besighede het potte ingeskryf en die geur van gebraaide uie het die lug gevul.

Danie en Madelein Cotton en Johan en Yolandi Stadeler van I-water in ‘n ligte luim by Rocking The Vaal.

Teen laatmiddag het die dag se veldaanbieder, Henry Bruinette, die vrywilligers vir die groot broodsmeer aksie bymekaar geroep.

Onder sy aansporing was die afgebakende gebied gougou toegestaan met ywerige broodsmeerders.

Dit was ‘n hele gedoente om almal getel, gehandskoen en gehoed te kry agter die tafels met die bordjies brood en botter.

Daar is altyd tyd vir ‘n selfie. Die paartjie het seker gemaak hul vang die groot verhoog en die broodsmeer-rekord as agtergrond vas.

Die beamptes het hul hande vol gehad, maar op die oog af het alles goed afgeloop.

Die aand se produksie was ook ‘n groot sukses met mense wat uitbundig voor die verhoog gedans het.

Welgedaan aan al die organiseerders en vrywilligers wat hierdie grootskaalse projek met sukses voltooi het.

Elmarie Kotze en Lulu du Plessis het van Florida gereis om die Rocking The Vaal produksie by te woon.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button