Local newsNewsNews

Sluiting van traumasentrum vir eers afgeweer

'n Skikking is by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (of “CCMA”, soos dit algemeen bekend staan) bereik.

VEREENIGING. – Personeel van die Alpha Traumasentrum in Vereeniging, wat hul werke sou verloor omdat die sentrum op 31 Maart alle aktiwiteite sou staak, kan vir eers ‘n sug van verligting gee.

Die werkers – wat maatskaplike werkers, hulp-maatskaplike werkers, administratiewe personeel en bystandwerkers insluit – het op 25 Maart ‘n vroeë Paasgeskenk ontvang toe hulle in kennis gestel is dat die brief, waarin hulle vroeër meegedeel is dat die traumasentrum aan die einde van Maart alle aktiwiteite sou staak en dat die personeel se kontrakte nie weer hernu sou word nie, vir eers “teruggetrek” is.

Die skrywe wat aan werknemers uitgestuur is nadat ‘n skikking by die Kommissie vir Versoening Bemiddelling en Arbitrasie (CCMA) bereik is.

 

Die wending volg nadat ‘n skikking tussen werkgewer en werknemer op Vrydag 22 Maart by die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie bereik is.

Volgens ‘n skrywe wat op 25 Maart aan werknemers gestuur is word die brief van 29 Februarie formeel teruggetrek.

In die lig van die bogenoemde terugtrekking sal werknemers met verloop van tyd in kennis gestel word oor die volgende stappe wat geneem sal word. Ons is deeglik bewus van die probleme wat deur almal ervaar word en vra u geduld. Ons sal so spoedig as moontlik met die kwessies aanspreek,” lees ‘n uittreksel uit die brief wat deur past. Gerhardt Roodt, voorsitter van die Delta Gemeenskapskerk, aan personeel uitgestuur is.

Vaalweekblad verstaan permanente persooneel is gevra om Dinsdag by die Alpha Traumasentrum te wees.

Die skikking is bittersoet, want ongeveer 42 vrywilligers gaan steeds hul werke verloor.

Pastoor Gerhard Roodt, voorsitter van die Delta Gemeenskapskerk in Duncanville en sy vrou, Melinda Roodt, ‘n voormalige voorsitter van die traumasentrum.

Vaalweekblad het in Maart berig dat ongeveer 66 personeel van die Alpha Traumasentrum, wat maatskaplike werkers, hulp-maatskaplike werkers, administratiewe personeel en bystandwerkers insluit, gaan nou hul werk verloor.

Dit volg nadat past. Roodt van die Delta Gemeenskapskerk die traumasentrum in Januarie as ‘n nie-winsgewende organisasie laat derigestreer het by die direktoraat vir nie-winsgewende organisasies.

Die traumasentrum het uit die Delta Gemeenskapskerk ontstaan.

Lees die oorspronklike berig hier.

Die redes wat deur Roodt aangevoer is vir die deregistrasie van die Alpha Traumasentrum, is eerstens weens die besluit van die provinsiale departement van maatskaplike ontwikkeling om nie al die aktiwiteite van Alpha Traumasentrum te finansier nie.

Tweedens het dit volgens Roodt “‘n situasie geskep waar die mandaat van Alpha Traumasentrum nie nagekom kan word nie en ‘n disfunksionele en ‘n giftige werksomgewing geskep is deur die onsekerheid as gevolg van die gebrek aan finansiering.”

Werknemers is ongelukkig oor dié besluit en meen dié stap het die traumasentrum van enige moontlike befondsing van die departement van maatskaplike ontwikkeling gestroop.

‘n Uittreksel uit die gewraakte brief waarin Roodt werknemers meedeel dat die Alpha Trauma Sentrum aktiwiteite gaan staak. Die brief is intussen teruggetrek.
Jacques Joubert, ’n maatskaplike werker, binne die assesermingskamer waar kinderslagoffers van seksmisdade geasseseer word. Foto: Christiaan Cloete

 

 
Back to top button