Local newsNewsNews

Mynvergadering verskuif weens toestand van Rothdene-gemeenskapsaal

Die vloerplanke het opgelig en kan veroorsaak dat besoekers en oumense daaroor val.

MEYERTON. – ‘n Opedag waar inligting oor twee beoogde oopgroef steenkoolmyne aan die publiek bekend gemaak sou word is Vrydag (12 April 2024) op die laaste oomblik na ‘n ander lokaal verskuif weens die toestand van die Rothdene-gemeenskapsaal.

Die opedag rakende die beoogde Vlakfontein- en Springfield-steenkoolmyne tussen Vereeniging en Meyerton – wat Saterdag 13 April vanaf 09:00 tot 17:00 by Rothdene gehou sou word – sal nou by die Meyerton-stadsaal by 25 Krugerstraat plaasvind.

Dit volg nadat vloeplanke opgelig het.

Die opedag is nou na Meyerton-stadsaal verskuif. Die rede vir die verandering is dat daar ‘n waterlek by Rothdene-gemeenskapsaal was wat aansienlike skade aan die vloerplanke aangerig het,” het Ursula Pape van Zitholele Consulting aan Vaalweekblad gesê.

Die konsultasiefirma fasiliteer die mynaansoek deur Glubay Coal (Edms.) Bpk., ‘n affiliaat van Canyon Resources.

Die vergadering is verskuif na die Meyerton-stadsaal by 25 Krugerstraat, wat in ‘n baie beter toestand is. Foto: Christiaan Cloete

Volgens Pape is hulle Donderdag (11 April 2024) van die probleem bewus gemaak.

Die vloerplanke het by die ingang opgelig en ook regoor die middel van die vloer. Ons het gehoop om om dit te werk, maar dit kan ‘n veiligheidsrisiko wees, veral vir bejaardes,” het Pape aan Vaalweekblad verduidelik.

Volgens Pape is kennisgewings reeds per SMS en e-pos aan mense en instansies wat as geïntereseerde en geaffekteerde partye geregistreer het gestuur om hulle te waarsku.

Die vloer van die Rothdene-gemeeskapsaal, wat besig is om te lig. Skermgreep: Verskaf

‘n Kennisgewing sal ook by die Rothdene-lokaal geplaas word om besoekers in kennis te stel dat die lokaal na Meyerton-stadsaal verskyf het.

Vaalweekblad het vroeër vandeesweek berig dat die planne vir die twee oopgroefmyne verlede Saterdag (6 April) by die Arcon Park Primêre Skool met hewige teenkanting begroet is.

Lees berig hier.

Glubay Coal (Edms.) Bpk. ‘n affiliaat van Canyon Resources, wil steenkool tussen Meyerton en Vereeniging myn en het reeds ‘n aansoek by die Departement van Minerale Hulpbronne ingedien vir die oprigting van twee steenkoolmyne – die groter Springfield-myn en die kleiner Vlakfontein-myn.

Die aansoek is reeds in ‘n gevoerderde proses en die afgelope naweek is die voorlopige omgewingsimpakverslag aan inwoners bekend gemaak.

Die aansoek het tot dusvêr ‘n negatiewe reaksie ontlok vanweë die myn sy nabyheid aan gevestigde woonbuurte soos Arconpark, Waldrif, Falcon Ridge, Springcol, Harmoniesrus, Houtkop-kleinhoewes, Unitaspark, Vaalkop, Van der Merweskroon, Rust-ter-Vaal en Roshnee, sowel as landbougrond.

‘n Inwoner spreek sy misnoeë oor die beoogde steenkoolmyne teenoor Johan Maré, ‘n omgewingskonsultant, uit tydens verlede week se vergadering by Arcon Park Primary School. Foto: Christiaan Cloete

Back to top button