Local newsNewsNews

20-jarige van Meyerton is nuwe armdrukkampioen

Die 20-jarige Riekerd Bornman het vinnige opgang in die armdrukwêreld gemaak sedert hy weens ‘n rugbybesering by die sport betrokke geraak het.

*Die storie het eerste in die gedrukte weergawe van Vaalweekblad (Vrydag 19 April, 2024) verskyn. Kry ons koerant op Vrydae vir al die jongste nuus.

MEYERTON. – “Pappa, ek het dit vir jou gedoen!”

Só het Suid-Afrika se nuwe armdrukfenomeen Riekerd Bornman (20) tydens ‘n regstreekse televisie uitsending gesê nadat hy op 13 Apri; as Armwrestling Entertainment (AWE) se nuwe ope-gewigsklas armdrukkampioen in Brisbane, Australië gekroon is.

Die 20-jarige voormalige hoofseun van die Hoërskool Dr. Malan en oudleerder van die Laerskool Republiek het aan die ope-gewigsklas afdeling van die AWE Grand Prix 2024 deelgeneem, en ál wat kompetisie is verpletter met sy kragtige arms, hande en goed ingeoefende tegniek.

Wat die oorwinning so indrukwekkend maak is dat Riekerd die enigste van die agt deelnemers in die toernooi was wat nog nie ‘n titel ingepalm het nie.

Riekerd het dit by tye laat lyk of sy teenstanders nie eers probeer het om teenstand te bied nie.

Riekerd druk teen Brett Coutts in die eindstryd van die AWE se Grand Prix 2024.

Hy het na afloop van die kompetisie die oorwinning aan sy pa, Duval Bornman, opgedra, wat Saterdag, 13 April in die vroeë oggendure saam met sy vrou, Mariska, hul ander seun, Duvan, en vriende opgestaan het om die armdruktoernooi – wat oorkant die Indiese Oseaan en in ‘n ander tydsone afgespeel het – op televisie te kyk.

Duval het Riekerd op ‘n vroeë ouderdom aan die sport van armdruk voorgestel, maar nooit verwag dat sy seun súlke hoogtes sou bereik nie.

Riekerd se ma vertel dat sy gestraal het van trots en selfs ‘n traantjie of twee gepik het toe haar seun groot name in die sport van armdruk – soos die legendariese Brett Couts, die reusagtige NieuSeelandse Maori Maateiwarangi “The Beast” Heta-Morris, Andy Boskovski, die gesoute Ryan “Blue” Bowen, Ryan Scott, Guntarts Biakovs en Lachlan Carpenter – een vir een uitgestof om die titel in te palm.

Die ‘reg-of-weg’-formaat van die kompetisie was van so aard dat elkeen van die deelnemers net een kans gehad het – indien hulle teen hul opponent verloor het, is hulle uitgeskakel.

Riekerd se pa, Duval Bornman (links), wat hom van ‘n jong ouderdom af aan die sport van armdruk voorgestel het en Duvan Bornman, Riekerd se jonger broer, om die armdruktafel by hul huis in Rothdene, Meyerton.

Riekerd het ná sy oorwinning op ‘n Instagram-video verduidelik dat hy sy inspirasie vir die nuutste oorwinning uit die Ierse rockband se liedjie Hall of Fame (waarin hulle saam met die kletsrymer will.i.am optree) geput het.

“Daar is ‘n gedeelte in die liedjie wat sê jy kan ‘n kampioen wees. Ek het geweet dat die AWEtoernooi ‘n groot een gaan wees en dat dit nie maklik gaan wees om daar te wen nie.

“Ek het die aanhaling gevat en dit op my oefenskedule geskryf – want as jy glo dat jy ‘n kampioen kan wees is enige iets moontlik. As jy nie (in jouself glo nie) wat baat dit?” het Riekerd gesê.

Sien Riekerd se Instagram video hier

Hy meen ook mens moet alles wat jy aanpak tot die beste van jou vermoë doen.

“Geniet elke oomblik en moenie opgee nie! Lewe en oefen elke dag of dit jou laaste is!” sê Riekerd.

Vaalweekblad het verlede jaar berig hoe Riekerd hom na die sport van armdruk gewend het nadat sy rugbydrome weens ‘n besering tydelik aan skerwe was.

Hy het die laaste paar maande vinnig opgang in die sport gemaak.

Terwyl Riekerd intussen goed herstel het en al weer kan draf, is die tyd vir rugby speel maar beperk. Riekerd studeer tans houtwerk aan ’n kollege in Brisbane en doen ook sy ambagskap as skrynwerker tussen 04:00 en 16:00.

Hy oefen meestal in die aande.

Rierkerd (met die belt) en die armdrukkers van die AWE.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: [email protected]
Back to top button