Kerk groet geliefde leraar ná 17 jaar
Ds. Jollie Theron en vrou Marietjie betree nou ’n nuwe en opwindende lewenshoofstuk.
VEREENIGING – Lidmate, oud-lidmate en vriende van die NG Gemeente Lux Deo (Arconpark) word hartlik uitgenooi na die amptelike afskeidsgeleentheid van ds. Jollie Theron.
Die spesiale geleentheid vind plaas tydens die erediens op 28 Junie om 09:00 in die kerkgebou in Lawnlaan, Arconpark.
Ds. Jollie (65) het sy pad in die bediening onderskeidelik in die NG Gemeentes Dundee en Lüderitz begin, voordat hy hom in 2009 by die destydse NG Kerk Arconpark aangesluit het.
Oor die afgelope 17 jaar het hy die plaaslike gemeente met onbaatsugtige toewyding, liefde en geestelike leiding gelei.
Die kerkraad en gemeente spreek hul opregte dankbaarheid uit vir sy jare lange diens en die diep spore wat hy in die gemeenskap trap.

Ds. Jollie sal na sy amptelike aftrede steeds by die kerk betrokke wees totdat daar ‘n nuwe leraar aangestel is.
Maar aan die einde van September emigreer hulle na Ierland om saam met hul kinders en kleinkinders te wees.
Die gemeente wens hulle oorvloedige seën, vreugde en goeie gesondheid toe vir die pad vorentoe.
Almal wat oor die jare ’n pad saam met die Theron-gesin gestap het, word genooi om die diens by te woon en hul waardering en beste wense persoonlik met ds. Jollie en Marietjie te deel.
