Local newsNews

DIT is hoekom jou stem so belangrik gaan wees op 29 Mei!

"Dit is heel moontlik dat die ANC onttroon kan word as al die kiesers wat geregistreer is, opdaag om te stem op die 29ste Mei 2024" - Raadsheer Phil Pretorius

Deur Phil C. Pretorius, Raadsheer en Hoofsweep, Midvaal Munisipaliteit:
Die tyd loop uit tot die 2024 Nasionale en Provinsiale verkiesings wat op 29 Mei 2024 sal plaasvind. Ek vind gereeld dat kiesers steeds nie seker is oor die verskil tussen Nasionaal en Provinsiaal vs. Distrik en Plaaslike (Munisipale) verkiesings nie. Elk het ‘n vyf jaar termyn wat ongesinchroniseerd verloop.

Derhalwe sal die NASIONALE VERKIESING van 2019 weer in 2024 plaasvind, terwyl die PLAASLIKE VERKIESING van 2021 dan weer in 2026 herhaal sal word. In 2021 het ons dus vir munisipaliteite met raadslede gestem en daar het die DA in Midvaal gewen. Ons sal nou eers weer in 2026 vir die beheer van Midvaal stem en tot dan sal die DA in beheer van Midvaal bly tensy daar iets ongehoords in die raad plaasvind. In 2024 stem ons weer vir Provinsies (Premier) en Nasionaal (President). Hierdie verkose publieke verteenwoordigers vir die Nasionale- en Provinsiale lyste word onderskeidelik verkies as Lid van die Parlement (LP of “MP” in Engels) en Lid van die Provinsiale regering (LPR of “MPL” in Engels).

Jou stem is jou reg en al is ‘n “wegblystem” ‘n vorm van protes, word jou stem tog indirek ‘n voordeel vir die sterkste party aangesien hulle stemme verhoudingsgewys toeneem. Daar is talle gevalle waar een of twee stemme die raadslid en dus ook die bestuur van die munisipaliteit bepaal het. Dit is hoekom regerings se konstitusies voorsiening maak vir die opskiet van ‘n muntstuk of selfs ‘n kaartspel om die finale wenner te bepaal wanneer daar ‘n gelyke uitslag is. Dit is hoe belangrik ELKE LIEWE STEM is.

Om egter te sê dat dié party jou kwaad maak oor ‘n bossie op jou sypaadjie of dáárdie een omdat ‘n verteenwoordiger iets simpel kwytgeraak het, is uiters kortsigtig. Dit maak dus sin om eerder vir die party te stem wat jou die meeste aanstaan (niemand is perfek nie) om daardeur te verseker dat jy ‘n invloed het in die bestuur van jou munisipaliteit en/of regering. Bepaal watter party jou waardes aanhang, vir jou veg en dienste lewer en STEM VIR HULLE, al het hulle hoeveel foute of probleme. Die alternatief is dat jy gaan sit met die een wat die swakste is, waarmee jy die minste saamstem, en dan die minste vir jou gaan beteken en omgee.

In 2024 is jou stem nog belangriker. Noudat die statistieke wys dat nie een party met ‘n meerderheid (50% of meer) van die stemme kan wen nie, sal die Provinsiale regering (Premier) ook deur koalisie saamgestel moet word. Wanneer ons dan oorweeg hoe regerings soos die Wes-Kaap en Midvaal vergelyk met ander munisipaliteite waar alles in duie stort, maak dit sin dat daar daadwerklike verandering nodig is in die Provinsiale regering van Gauteng.
In die Wes-Kaap is dieselfde party in Provinsiale regering sowel as meeste van die Munisipale rade. Dit vergemaklik die samewerking tussen provinsie en munisipaliteit en verminder die magspel soos die wat ons tans in Gauteng sien.

Gereeld word opmerkings gemaak dat Midvaal die minste begroting van Gauteng af kry, die meeste onder beurtkrag deurloop, die minste behuising ontvang, die meeste opdraande kry met spesiale projekte, die swakste provinsiale paaie het, die minste provinsiale klinieke het, geen provinsiale hospitale het nie, die meeste geteiken word vir grondgrype en die meeste onnodig ondersoek word vir korrupsie en wanbestuur. Die hulp vanaf Gauteng in die verband is so te sê nul. Die Wes-Kaapse Provinsiale regering daarenteen het alreeds stappe in plek vir hul eie kragvoorsiening, seewatersuiwering, aanvul van die polisiediens, opgradering van skole en onderwysers, asook nuwe tegnologie soos die nuwe plastiese padoppervlaktes om hulle munisipaliteite te help. In Gauteng stry hulle steeds oor watter klein partytjie die Burgermeesterpos moet kry wanneer hulle hop van een koalisie na die ander en sodoende dienslewering in die wiele ry.

Dit is dus van kritieke belang dat ons besef dat die 2024 Provinsiale verkiesing NIE ‘N GRAP IS NIE. Stem sal ons moet stem. Maak dit nou al jou nommer een prioriteit vir verkiesingsdag.Verkondig dit ook so aan familie en vriende sodat almal weet hoe jy voel en waar jy staan want woorde het krag. Jou voorbeeld maak ‘n verskil.

By die onlangse Emfuleni tussenverkiesing in Wyk 16 het minder as 30% van Arconpark se kiesers kom stem en het die DA die wyk met slegs 503 stemme verloor. As ons in ag neem dat die ANC die laaste Nasionale verkiesing met slegs ongeveer 30% van die land se ondersteuning gewen het en ongeveer 27 000 000 (27 mil.) mense nie gestem het nie, is dit heel moontlik dat hulle onttroon kan word as al die kiesers wat geregistreer is opdaag om te stem op die 29ste Mei 2024. Lees dit weer!

Trotse Midvaal groete, Phil.
Web: www.midvaal.gov.za
Facebook: Midvaal Local Municipality en Midvaal News Network
Tel: 0861 643 8225
ChatBot: 081 876 0408
MyMidvaal App

 
Back to top button