Local newsNews

Geliefde oud-onderwyser sterf in sy slaap

Mnr. Van Rensburg, oud-adjunkhoof van die Hoërskool Vanderbijlpark, het nie net 'n groot bydrae op onderwysgebied gelewer nie, maar ook in plaaslike rugby-kringe.

VANDERBIJLPARK. – ‘n Bekende en geliefde oud-onderwyser van die Vaaldriehoek, mnr. Louis van Rensburg (86), is verlede Donderdag stil in sy slaap oorlede. Hy was die afgelope agt jaar ‘n inwoner van Herfsoord in die dorp.

Mnr. Van Rensburg sal veral onthou word deur duisende oudleerlinge van die Hoërskool Vanderbijlpark, waar hy dekades lank onderwys gegee het. Hy het hoofsaaklik wiskunde aangebied en was in sy werksjare ook baie betrokke by die afrigting van rugby op hoërskole- sowel as seniorvlak. Met sy toewyding en deeglikheid het hy deur die jare ‘n onmiskenbare stempel op die lewens van honderde of selfs duisende jongmense afgedruk.

Mnr. Van Rensburg is op 29 April 1937 in Kroonstad gebore. Hy was in Pretoria op laerskool voordat hy in 1952 as kind saam met sy gesin na Vanderbijlpark verhuis het, waar skoolkinders aanvanklik in tente op Oliver Lodge se terrein skoolgegaan het. Hy het sy skoolopleiding aan die Hoërskool Vanderbijlpark voltooi, waarna hy die grade B.Com, B.Ed en sy onderwysdiploma in Potchefstroom verwerf het.

Mnr. Van Rensburg het aanvanklik by Hoërskool Vanderbijlpark skoolgehou voordat hy vir vier jaar na Potgietersrus en een jaar na Transvalia gesekondeer is. Hy het uiteindelik weer na Hoërskool Vanderbijlpark teruggekeer, waar hy die pos as adjunkhoof beklee het.

Volgens sy weduwee, mev. Mariëtte van Rensburg, sal sy familie en vriende hom onthou as ‘n sagmoedige en vriendelike mens. Die egpaar het mekaar reeds as tieners ontmoet en was sedert 1953 “gekys” voordat hulle in 1960 getroud is. Buiten sy vrou word mnr. Van Rensburg ook oorleef deur drie kinders en vier kleinkinders.
Sy verassingsdiens is Vrydag, 26 April by Herfsoord se kapel gehou.

Wyle mnr. Louis van Rensburg.

Check Also
Close
 
Back to top button