Local newsNews

Kragopwekker lei tot regstappe en kwaaivriendskap tussen bure

Buurman beplan om beskermingsbevel teen te staan

 

VANDERBIJLPARK. – Sedert die koms van beurtkrag het kragopwekkers ‘n alledaagse gebruiksartikel in baie Suid-Afrikaanse huishoudings geword. In ‘n eerste vir die Vaaldriehoek het ‘n Vanderbijlparkse inwoner egter nou ‘n beskermingsbevel aangevra om sy buurman te stop om ‘n kragopwekker te gebruik.

Mnr. Henri Fourie (55) van Pres. Hoffmanstraat, SE1, het vroeër die maand by die Vanderbijlparkse landdroshof aansoek gedoen vir ‘n “beskermingsbevel weens teistering” teen sy buurman, mnr. Len Potgieter (47), om hom te verhoed om sy kragopwekker te gebruik.

Volgens mnr. Fourie se skriftelike aansoek maak mnr. Potgieter se kragopwekker ‘n harde geraas en die dampe is boonop skadelik vir sy gesin se gesondheid. Hy voer verder aan dat hy sy huis wil verkoop omdat hy en sy gesin nie langer die daaglikse gedreun kan verduur nie. Hy beweer in sy aansoek dat die kragopwekker vir die afgelope twee jaar van 08:00 soggens tot 15:00 in die middae aangeskakel is. Mnr. Fourie kla voorts dat hy met sy buurman oor die kragopwekker gepraat het, maar dat mnr. Potgieter aan hom gesê het om die probleem “op ‘n ander plek te gaan uitsorteer”.

Volgens die hofdokumente het mnr. Potgieter tyd tot 15 Augustus om redes aan te voer waarom die beskermingsbevel teen hom nie permanent gemaak moet word nie.
Mnr. Potgieter het by navraag aan Vaalweekblad gesê sy krag is weens omstandighede buite sy beheer deur die munisipaliteit afgesny en hy is tans afhanklik van ‘n kragopwekker om werk te kan doen waarmee hy ‘n inkomste verdien.

“Dit is onwaar dat ek my kragopwekker elke dag gebruik. Ek gebruik dit hoogstens twee of drie dae per week van 09:00 tot 12:00, en by uitsondering op ‘n Saterdag of Sondag soos wat daar werk inkom. Ek het almal in ons omgewing gevra of die kragopwekker hulle pla en niemand het ‘n probleem daarmee gehad nie,” sê hy. Hy beplan om die permanente beskermingsbevel teen te staan. “As ek moet stop om my kragopwekker te gebruik, sal ek ‘n prokureur moet gaan sien en ‘n saak teen mnr. Fourie maak weens die verlies aan inkoste.”
* Mnr. Fourie het by navraag aan Vaalweekblad gesê hy sal na die hofsaak besluit wat hy verder gaan doen.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button