Local newsNews

‘RatingsAfrika’ gee Midvaal-munisipaliteit nóg ‘n veer in die hoed!

Midvaal is WEER aangewys as die Finansieel Mees Volhoubare Munisipaliteit in Suid-Afrika!

Deur Phil C. Pretorius, Raadsheer en Hoofsweep, Midvaal Munisipaliteit:
Ratings Afrika het onlangs aangekondig dat Midvaal weer eens aangewys is as die Finansieel Mees Volhoubaarste Munisipaliteit in Suid-Afrika vir 2022/2023.
Midvaal deel vanjaar hierdie eer met Mosselbaai-munisipaliteit wat albei 74 uit 100 punte op die RatingsAfrika-skaal behaal het. Al vyf die top munisipaliteite in die land asook die top Metro is DA-beheerde regerings.

RatingsAfrika is ‘n onafhanklike agentskap wat in 2007 die regeringsevaluasies van CA-Ratings oorgevat het toe dit aan Moody’s verkoop is. Hulle spog met meer as 30 jaar se ondervinding in die lewer van hierdie klas van evaluasies en ongeveer 150 jaar se gesamentlike ervaring in die evaluasiespan (www.ratingsafika.com). Hulle evalueer jaarliks die 100 grootste munisipaliteite in die land, wat die Metro’s insluit. Hul Municipal Financial Sustainability Index (MFSI) evalueer onder andere: Operasionele prestasie, bates- en lastebestuur, begrotingspraktyke en likiditeit (www.ratingsafrika.com).

RatingsAfrika definieer finansiële stabiliteit as die vermoë om dienste te lewer, infrastruktuur te ontwikkel en onderhou, asook die kapasiteit om finansiële skokke (bv.: ekonomiese druk) te kan absorbeer. Die faktore wat volgens hulle die stabiliteit van munisipaliteite beïnvloed is onder andere: vaardighede, ervaring, finansiële dissipline, kwaliteit van die bestuurspan en ‘n sterk gegronde politieke leierskap.

In die derde plek vir die 2022/2023 evaluasie is Saldanhabaai-munisipaliteit; vierde is Swellendam-munisipaliteit en vyfde is die Swartland-munisipaliteit. Kaapstad Metro is die beste Metro in Suid-Afrika. Midvaal is die enigste munisipaliteit buite die Wes-Kaap. Dit gee mens hoop vir wat in Gauteng moontlik kan wees as die Veelparty Alliansie (MPC – Multi Party Charter) die provinsie kan wen in die 2024-verkiesing. Maak dus seker jy is gereed vir die verkiesingsdag op 29 Mei. Onthou dat jy moet stem by die stasie waar jy geregistreer is tensy jy aansoek doen vir ‘n spesiale stem as jy nie by die huis is op daardie dag nie. Skakel jou wyksraadslid vir hulp in die verband.
Trotse Midvaalgroete, Phil.

Web: www.midvaal.gov.za
Facebook: Midvaal Local Municipality en Midvaal News Network
Tel: 0861 643 8225
ChatBot: 081 876 0408
MyMidvaal App

Check Also
Close
 
Back to top button