‘Meneer is ons superheld’ – Parkies aan hul hoof
Die LS Kollegepark het weer hul hoof se verjaardag behoorlik gevier hierdie jaar.
VANDERBIJLPARK. – 24 April elke jaar word daar nie veel geleer by die Laerskool Kollegepark nie.

Nee, op die belangrike dag word daar feesgevier. Dis skoolhoof Coenie Herbst se verjaardag en jaarliks dink ‘n ander graad ‘n tema uit vir die groot okkasie.
Hierdie jaar het die graad 1’s op ‘n Superheldedag besluit. Die skool het in ‘n magdom van superhelde opgedaag en in spanning gewag vir hul hoof om sy verskyning te maak.

Toe hy uiteindelik as ‘n wolf uit ‘n vrolik geverfde voertuig onder begeleiding van sekuriteitsvoertuie klim, het die pawiljoen se dak amper gelig.
Almal het heerlik die liedjie, ‘Ek wil jou hero wees’, saamgesing, wel die koorgedeelte.

Coenie het almal bedank vir sy geskenke, onder andere ‘n visstok en ‘n katrol, en het gesê: “Ek waardeer julle. Ek is bevoorreg en geseënd. Julle is baie spesiaal en ek is baie lief vir julle.”

Na die amptelike verrigtinge het almal piekniek gehou in graadverband op die veld terwyl Coenie by elke graad gaan inloer het en baie drukkies uitgedeel het.
