Local newsNewsNews

Eligwa se hoof het byna nie onderwys geswot nie

Maak nader kennis met Laerskool Eligwa se hoof, Bennie Boshoff

VANDERBIJLPARK. –  Teen die kantoormure pryk ʼn collage van wildtuin en see foto’s. Bennie Boshoff het die foto’s self geneem.

Hy is op sy gelukkigste in die natuur. Hetsy die see of die bos met visstok of kamera in die hand.

Dis nou die kere wat hy kans kry om weg te gaan met vakansie. Andersins is hy altyd doenig by Laerskool Eligwa waar hy al sedert 2019 hoof is.

Self is hy al deel van die Eligwa-familie vanaf 2008. “Ek het al die jare wiskunde gegee,” beduie hy. Voor sy Eligwadae was hy vir ʼn dekade by Oliver Lodge Primary School.

“Ek het my onderwysloopbaan by Laerskool Kollegepark begin onder twee van die bester mentors wat ek kon kry, Christo Brandt en Lourens Marx.”

Bennie se oë blink vrolik as hy begin uitwei oor Eligwa, die leerders en onderwysers.

“Ek is trots op die skool. Ek is deel van hulle. Ek het eenkeer gelees ʼn leier stap voor met ʼn wit vlag en nie agter met ʼn sweep nie,” verduidelik hy ernstig.

Eligwa dra hy op die hart. Dis moeilik om te glo, dat hy byna nie onderwys gaan swot het nie.

Die voormalige leerder van Laerskool D.F Malherbe en Hoërskool Transvalia het amper ingenieurswese gaan swot.

“Ek het ʼn beurs vir ingenieurswese en onderwys gehad, toe kies ek onderwys want my meisie het onderwys in Potchefstroom gaan swot,” lag hy.

Hulle het in 1986 saam by die voormalige Potchefstroom Onderwyskollege aka POTE begin swot.

Daar het die onderwysgogga Bennie behoorlik gebyt én die liefde het gehou. Hy en sy einste meisie van daardie jare. Elsa is al 33 jaar getroud.

Die egpaar het twee kinders. Hul dogter Anri het in haar ouers se voetspore gevolg en onderwyseres geword, terwyl Luan onlangs sy graad in aptekerswese voltooi het.

Spyt was Bennie nog nooit dat hy nie ingenieur geword het nie, daarvoor het hy ʼn te groot passie vir die onderwys en Eligwa sal hy nie los nie.

“ʼn Mens groei saam met die skool. Ek is lief vir Eligwa.”

Check Also
Close
 
Back to top button