Local newsNewsNews

SANCA bekommerd oor gebrek aan regeringsbefondsing

Die gebrek aan befondsing en kommunikasie van die regeringsdepartement se kant af maak dinge baie moeilik vir die nie-winsgewende organisasie.

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Raad vir Alkoholisme en Dwelmafhanklikheid (SANCA) sê talle sentrums wat bystand aan mense met middelafhanklikheid bied kan weens ‘n gebrek aan befondsing deur die Gautengse Departement van Sosiale Ontwikkeling genoop word om hul deure te sluit.

Dit kom ten spyte van die regering se erkenning dat dwelmafhanklikheid een van die prioriteitkwessies in Suid-Afrika is.

SANCA is die land se grootste nie-winsgewende organisasie wat hom beywer vir die voorkoming en behandeling van substansgebruiksversteurings.

SANCA kla ook oor vertragings in die finalisering van befondsingsprosesse vir die nuwe boekjaar en kommunikasie van die departement.

Op Vrydag, 26 April 2024, was SANCA Horizon in Boksburg, een van die grootste en oudste SANCA-sentrums, gedwing om tydelik te sluit weens hierdie kwessie.

‘n Donker wolk van onsekerheid hang nou oor die arbeidsmag by baie SANCA-behandelingsentrums, aangesien hul werk bedreig word deur die vertraagde SLA’s vir toekomstige befondsing.

SANCA se nasionale koördineerder, mev. Adrie Vermeulen, sê: “Dit is nogal tragies dat die situasie hierdie punt bereik het. Hierdie is net een voorbeeld van die impak wat die vertraging van subsidies deur die Gautengse departement van maatskaplike ontwikkeling op dienste aan mense met middelgebruikversteurings het.”

Volgens Vermeulen word twaalf van SANCA se sentrums in Gauteng, wat ‘n reeks bewusmakings-, voorkomings- en behandelingsdienste verskaf, negatief beïnvloed deur die departement se begrotingsbeperkings en die diensvlakooreenkoms-ondertekening-oorgangsfase.

Die onvermoë van departement om te kommunikeer maak dit volgens Vermeulen ook uitdagend om te beplan en gereed te maak vir die toekoms.

Op 12 April 2024 het SANCA se nasionale kantoor korrespondensie oor hierdie kwessie aan die departementshoof, me. me Matilda Gasela, gestuur.

“Tot op hede het haar kantoor nie gereageer op die kommer wat geopper is nie,” vertel Vermeulen.

SANCA se sentrums in Gauteng sluit twintig buitepasiënt-/gemeenskapsgebaseerde behandelingsdienstasies, drie binnepasiëntbehandelingsentrums vir adolessente, vyf behandelingsentrums vir volwassenes, drie dagsorgsentrums, twee halfweghuise en een mobiele kliniek in.

Om die mees kwesbare teikengroepe in gemeenskappe te bereik, is die sentrums in hoërisikogebiede geleë. In Gauteng sal daar ‘n impak wees op ongeveer 8 075 begunstigdes/diensgebruikers vir behandeling en meer as 456 000 begunstigdes vir bewusmaking en voorkomende intervensies.

Meeste van SANCA se sentrums het besluit om nie die kontrakte van hul vrywilligers vir die voorkomingsprogramme aan die einde van Maart 2024 te hernu nie weens die impak van die vertraagde ondertekening van die diensvlakooreenkomste (SLA’s) en die dreigement van ‘n besnoeiing in subsidies.

Volgens Vermeulen is hierdie besluite geneem omdat dit onseker is of hierdie dienste gefinansier sal word en, indien wel, wat die besnoeiings in subsidies sou wees.

“Dit het ‘n impak gehad op 202 jongmense sonder werk aan wie toelaes gegee is om bewusmakings- en voorkomingsveldtogte in plaaslike gemeenskappe en skole uit te voer,” vertel Vermeulen.

By een van die SANCA-sentrums is personeelafleggings reeds op hande. Teen die einde van April 2024 sal drie van die sentrums volgens Vermeulen nie salarisse kan betaal nie.

“Oor die afgelope sewe jaar het SANCA meer as 80 000 begunstigdes behandel en was aan die voorpunt van die stryd teen middelgebruikafwykings. Dit sluit nie die voorkomende dienste wat gelewer word in nie.

“Om voldoening en dienste van hoë gehalte in al nege provinsies te waarborg, hou ons die sentrums dop en monitor en assesseer dit.

“Deur die jare het SANCA-sentrums getoon dat hulle aan alle wette en vereistes voldoen. Hulle handhaaf ook ‘n noodsaaklike verhouding met die departement om te verseker dat behandelings aan individue met dwelmgebruikversteurings verskaf word, ‘n groep wat gemarginaliseer is,” sê Vermeulen.

SANCA het ‘n beroep op die LUR Mbali Hlophe gedoen om in te tree en die kwelpunte aan te spreek.

Die organisasie vra ook dat diensvlakooreenmkomste so gou as moontlik deurgestuur word sodat SANCA kan beplan en vir die toekoms voorberei.

 
Back to top button