Local newsNewsNews

Kwaadwillige vergiftiging van diere aan die toeneem

Misdadigers vergiftig toenemend diere sodat hulle makliker toegang tot eiendomme kan kry.

Misdadigers vergiftig die diere sodat hulle makliker toegang tot eiendomme kan kry.

Die misdaadgedrewe vergiftiging van troeteldiere en waghonde om toegang tot eiendomme te verkry, is glo aan die toeneem.

Volgens Mike Bolhuis van Specialised Security Services word dié ontstellende taktiek gebruik deur individue met kwaadwillige opset om ongemagtigde toegang tot ‘n eiendom te verkry vir die doeleindes van kriminele aktiwiteite soos huisbraak, diefstal, vandalisme of selfs ernstiger oortredings.

Dit is veral honde wat onder dié misdaadgier deurloop, aangesien hulle as ‘n doeltreffende afskrikmiddel teen indringers dien.

“Deur troeteldiere te vergiftig, probeer misdadigers om hierdie veiligheidsmaatreëls te neutraliseer en ongehinderde toegang tot eiendomme te verkry. Die uitskakeling van die bedreiging wat troeteldiere inhou, maak dit makliker vir misdadigers om hul onwettige aktiwiteite uit te voer sonder opsporing of weerstand,” sê Bolhuis.

Die metodes wat gebruik word om diere te vergiftig verskil, maar die mees algemene gifstowwe sluit giftige chemikalieë, plaagdoders, rotgif en vergiftigde lokaas in.

“Hierdie middels is dikwels maklik toeganklik en kan diskreet aan troeteldiere toegedien word. Misdadigers lok dikwels troeteldiere met vergiftigde kos of lekkernye of vergiftig waterbakke. Die gif kan ook direk aan niksvermoedende troeteldiere toegedien word,” sê Bolhuis.

Volgens Bolhuis veroorsaak vergiftiging geweldige lyding. Dit kan diere ernstig siek maak of tot stefte ly.

Simptome kan braking, diarree, aanvalle, verlamming en uiteindelik orgaanversaking tot gevolg hê. “Die verlies van ‘n geliefde troeteldier as gevolg van vergiftiging is verwoestend vir troeteldier eienaars en gaan met diep harstseer en emosionele trauma gepaard.

Misdadigers lok dikwels troeteldiere met vergiftigde kos of lekkernye.

Troeteldiere word dikwels as lede van die gesin beskou, en hul verlies laat ‘n groot leemte in hul eienaars se lewens,” meen Bolhuis.

Die vergiftiging van diere is ‘n kriminele oortreding in SuidAfrika en is strafbaar ingevolge dieremishandelingwette en ander relevante wette. Oortreders kan teregstaan op aanklagte van dieremishandeling, betreding, vandalisme, diefstal en ander verwante misdrywe. Wetstoepassingsagentskappe neem sulke sake ernstig op en doen ondersoeke om diegene wat verantwoordelik is te identifiseer en te vervolg.

Mike Bolhuis stel die volgende voorkomende maatreëls voor om te keer dat jou troeteldiere vergiftig word:

*Hou troeteldiere in die huis en maak seker dat hulle onder toesig is wanneer hulle buite is. *Beveilig die eiendom met heinings, hekke en toesigkameras.

*Vermy om kos of water sonder toesig te los waar daarmee gepeuter kan word.

*Hou jou eiendom, veral sy omtrek, goed verlig. *Moenie jou waghonde of troeteldiere naby die omtrek toelaat nie, tensy hulle onder toesig is – om te verhoed dat hulle aas eet wat oor die heining gegooi word.

*Gemeenskapsbetrokkenheid en buurtwagprogramme kan ook help om bewustheid te verhoog en waaksaamheid teen verdagte aktiwiteite te verhoog.

*Indien moontlik, verseker dat straatligte altyd in ‘n werkende toestand is – daar is ‘n besliste toename in hierdie gruwelike neiging sodra dit beurtkrag is of wanneer straatligte nie werk nie.

Die vergiftiging van diere raak nie net individuele troeteldiereienaars nie, maar boesem ook vrees en onrus by gemeenskappe in.

Dit kan veroorsaak dat inwoners onveilig en kwesbaar voel en tot verhoogde kommer oor sekuriteit en misdaadvoorkoming lei.

Gevalle van troeteldiervergiftiging kan gemeenskapsverhoudinge en vertroue belemmer aangesien bure agterdogtig raak oor mekaar en die veiligheid van hul omgewing bevraagteken.

Gemeenskapsuitreikprogramme, veeartsenyklinieke en dierewelsynsorganisasies kan ‘n rol speel in die verskaffing van inligting en hulpbronne aan troeteldiereienaars en gemeenskappe.

Die bewusmaking van die risiko’s van troeteldiervergiftiging en die opvoeding van die publiek ten opsigte van voorkomende maatreëls is van kardinale belang om hierdie misdaad te bekamp.

 
Back to top button