Local newsNews

Wie kan Denise help met wilde komkommersaad?

Denise moes intussen na 'n aftreeoord verhuis en het haar komkommers en die saad verloor. Sy probeer nou hard om weer daarvan in die hande te kry.

 

VEREENIGING. – Vaalweekblad het in 2020 berig oor Hendrik en Denise Naudé se sappige Kalahari-komkommers, wat welig in hul erf in Houtkopweg, Vereeniging, gegroei het. Lesers was gaande daaroor en almal wou graag saad hê om hul eie te kweek. Ongelukkig is Hendrik in 2021 oorlede en Denise het intussen na ‘n aftreeoord verhuis. Sy het ongelukkig al haar komkommersaad verloor en sal graag weer daarvan wil aanplant. As hier iemand in die Vereeniging-omgewing is wat dalk weer vir haar saad kan gee, WhatsApp haar asseblief by 076 851 0717.

 

Lees die oorspronklike berig uit 2020 hier onder:

Woestynvrug floreer in die Vaal!

Retha Fitchat
VEREENIGING. – Wou jy nog altyd graag jou eie groente kweek maar het nie “groen vingers” nie? Druk dan net ‘n paar pitte van ‘n woestynkomkommer in die grond en as jy weer sien, het jy ‘n hele tuin vol sappige slaaigroente!

Vir plantkenners en jarelange tuiniers is die ongewone komkommers in Hendrik en Denise Naudé se tuin in Houtkopweg, Vereeniging, waarskynlik niks ongewoon nie, maar stadsjapies sal dalk twee keer dink voordat hulle hul tande in dié vreemde vrug met sy effens bedreigende voorkoms inslaan.
Hulle weet egter nie wat hulle mis nie, want die woestynkomkommer, ook genoem ‘n Kalahari- of wilde komkommer, is heerlik sappig en ‘n aanwins in enige slaai. Dis selfs lekkerder as ‘n gewone komkommer, sê die Naudé’s.

Volgens Denise (68) het haar man, Hendrik (74), jare gelede ‘n paar pitte van die plant saamgebring en dit in die grond gedruk toe hy van Bloemfontein na Vereeniging verhuis het.
“Dit groei nou so welig dat ons vanjaar al meer as 40 komkommers gepluk het – en daar is maklik nog 60 oor,” sê Denise.

Hoewel dit smaaklik is in ‘n slaai, is die komkommers ook ‘n verfrissende peuselhappie op hul eie.
“Hendrik strooi net ‘n bietjie sout oor en eet dit dan sommer net so uit die tuin uit,” sê Denise.
Aangesien dit ‘n geharde woestynplant is, hoef dit nie eers gepamperlang of natgelei te word nie. Die Naudé’s se indrukwekkende oes komkommers het vanjaar slegs op reënwater floreer.

Denise en wyle Hendrik Naudé. Hendrik is in 2021 oorlede.
Wyle Hendrik Naudé.
Die woestynkomkommer, ook bekend as ‘n wilde of Kalahari-komkommer.

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Check Also
Close
Back to top button