Local newsNews

Na 18 operasies veg klein Alissa voort

Alissa is tans weer in die hospitaal en het almal se voorbidding en ondersteuning nodig

 

MEYERTON. – Terwyl die wêreld in 2021 Kersfees gevier het, het ‘n pasgebore dogtertjie, Alissa van der Walt, moedig begin veg teen die struikelblokke wat op haar lewenspad wag.
Klein Alissa is 23 Desember 2021 op net 32 weke van swangerskap gebore. Vandag is sy ‘n dogtertjie van 2 jaar en 5 maande, maar weens verskeie gesondheidsprobleme het sy in haar kort lewe reeds 18 mediese prosedures ondergaan, en vele lê nog voor.

Vir haar ouers, Shevaughn (33) en Stefan Van der Walt (37) van Meyerton, was dit ‘n groot verrassing toe hulle in Junie 2021 uitvind dat hulle swanger was met Alissa, aangesien Shevaughn kort tevore ‘n miskraam gehad het. Slegs ‘n paar weke in die nuwe swangerskap in het Shevaughn begin bloei. Daar is gevrees dat sy weer ‘n miskraam sou hê, maar ‘n sonarondersoek het getoon dat die fetus nog leef.
“Daar was ‘n flou hartkloppie, so klein soos ‘n mosterdsaadjie, en toe onthou ek Jesus het gesê al is ons geloof so klein soos ‘n mosterdsaad, kan berge daarmee versit word,” sê Shevaughn.

Slegte nuus het egter tussen die 14de en 17de week van swangerskap op die ouerpaar gewag: Sonarondersoeke het sekere afwykings waargeneem en daar is gevrees dat die kleinding Down-sindroom sou hê. Haar hartventrikels was ook aansienlik vergroot. Spesialiste het met empatie voorgestel dat die swangerskap liewer getermineer moes word. Terwyl die ginekoloog die terminasieproses aan Shevaughn verduidelik het, het sy besef sy wou nie haar kind se lewe beëindig nie. Sy het besluit om die swangerskap in geloof voort te sit.

Nadat Shevaughn se water onverwags op 23 Desember 2021 op net 32 weke gebreek het, is sy hospitaal toe en Alissa is met ‘n keisersnee gebore. Hoewel sy nie Down-sindroom gehad het nie, was haar koppie uitermate groot en sy is met hidrokefalie, wat in die volksmond as ‘n “waterhoof” bekend staan, gebore. Verskeie prosedures, soos om ‘n dreineringsbuis van haar brein na haar magie in te sit, is die afgelope twee jaar uitgevoer. Ongelukkig was daar herhaaldelike terugslae en sy moes reeds verskeie operasies en prosedures ondergaan, onder andere weens breinvliesontsteking, fungus-infeksies, en om siste in haar brein en buik te behandel. In Januarie vanjaar het sy boonop twee hartaanvalle weens longontsteking gehad. Sy het reeds ses maande in hospitale deurgebring en is tans weer in die Netcare Alberton-hospitaal.

Ondanks haar pyn en ongerief wen klein Alissa vele harte met haar skaam glimlaggie. Haar wakker ogies en woelige handjies wys ook dat sy presies verstaan wat om haar aangaan. “Ons harte breek om haar so te sien. Ons pleit by almal om te bid vir ons dogtertjie,” sê Shevaughn.
Hoewel die Van der Walts ‘n hospitaalplan het, groei die uitgawes vinnig aan en hul mediese skuld beloop reeds byna R100 000. Enigiemand wat hulle met ‘n bydrae wil ondersteun, kan dit inbetaal by https://www.backabuddy.co.za/campaign/help-alissa-fund, of doen ‘n direkte EFT na: S D Britz, FNB Spaarrekening: 62598919721, Takkode: 250655, Verwysing: Medical.

Alissa in die begindae – kort na haar geboorte
Alissa toe sy al kon begin bottel drink.
Sy is vandag ‘n vriendelike dogtertjie wat ondanks haar gesondheidsprobleme graag speel en besig bly.
Met daardie glimlaggie vermurwe sy almal se harte!
Pappa Stefan en Mamma Shevaughn met hul klein vegterjie, Alissa van der Walt.
Alissa is tans weer in die hospitaal.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button