Local newsNewsNews

Noue ontkoming vir Rdl. Gerda Senekal

VANDERBIJLPARK. - Die dorp se "ystervrou" raadslid Gerda Senekal van die VF Plus in Emfuleni, het vanoggend net-net daarin geslaag om booswigte vry te spring.

Rdl. Senekal vertel dat sy omstreeks 08:50 op die R42 net buite die dorp onderweg was kantoor toe, toe die voorval gebeur het.

“Ek was ‘n afstand verby Rich Man Poor Man in die rigting van die dorp, toe ek ‘n man in die middel van die pad gewaar. Ek het gewonder hoekom staan hy daar, en toe sien ek hy gooi iets op die pad,” vertel rdl. Senekal.

Sy was op spoed, maar het besef dat dit ‘n stuk draad was wat hy oor die pad gegooi het en het uitgeswaai en amper ‘n boom getref.

“Dit het alles so vinnig gebeur. Toe ek sien verskyn daar nog drie van sy makkers van agter die boom.

“Hulle was sommer hier teen my motor. Ek het gelukkig kop gehou en kon daarin slaag om weg te jaag,” sê rdl. Senekal.

Sy het ‘n ent verder gestop en haar man en seun in kennis gestel. Hulle is daarna terug na die plek waar die voorval gebeur het, en het die stuk draad langs die pad gekry.

“Motoriste moet voortdurend op hul hoede wees en besef dat sulke skelmstreke soms helder oor dag gebeur,” waarsku rdl. Senekal.

‘n Deel van die stuk draad wat oor die pad gegooi is en wat in haar motor se onderstel kon rol en skade aanrig as sy daaroor gery het.

 
Back to top button