‘n Bielie van ‘n baber
DKD Groenpunt Hengelklub het 'n goeie dag langs die Vaaldam gehad.
VAALDAM. – Daar is dae wat die visse byt en dae wat hul halsstarrig enige muti, pap of aas weier.
Dit keer hengelaars nie om keer op keer weer te probeer nie. Dinsdag, 7 Mei het die Groenpunt Hengelklub hul maandkompetisie by Moolmans langs die Vaaldam gehad.

Twintig hengelaars het mekaar die stryd aangesê en die visse het heerlik saamgespeel.
By verre die grootste vis van die dag, was ‘n allemintige 11,373 kg baber wat Wimpie Willemse wal toe gebring het.

Piet Smith was die wenner van die dag met 12 vis wat 29,890 kg geweeg het, gevolg deur Wessie van der Westhuizen wie se sak van 13 visse 19,316 kg gehaal het.

Wimpie was derde. Sy vier visse het die skaal op 18,1896 kg getrek. Onder die dames was Venessa Smith die wenner. Sy het drie visse gehak wat saam 2,538 kg geweeg het.
Dit was DKD Groenpunt HK se eerste keer wat hul in hul splinternuwe geel hemde geborg deur Flexiplex gehengel het.
