VANDERBIJLPARK. – Suid-Afrikaners en sport. ‘n Onafskeibare kombinasie. Dit maak nie saak of die Springbokke of o.7’s speel nie, die ondersteuners is daar en die jong sportsterre kompeteer met ywer.
Vrydag, 10 Mei het die Laerskool D.F Malherbe ‘n mini-rugby-en-netbaldag aangebied.
D.F, Laerskool Emfulenipark, Curro, Totius, Eligwa, Kollegepark en Vaalrivier se o.7’s en o.8 rugbyspanne het vir hardlooprugby en menige drieë gesorg.
Op die netbalbane het die o.7 tot o.9 spanne van D.F, Eligwa, Emuleni, Kollegepark, Vaalrivier, Frikkie Meyer, Curro en Vesco Academy ywerig meegedoen.

Die klem was op die kinders om die sportfees te geniet. Die meeste het, ten spyte van die trane as een seergekry het.
Afrigters van die o.7 rugbyspanne het meer as een keer ‘n outjie snikkend van die veld gedra om troos in juffrou of hul ouers se arms te gaan vind.
Duidelik is die jongspan baie gedetermineerd om goeie rugby te speel en is daar ouers wat die hele besigheid dalk bietjie te ernstig opneem.

Humor was daar ook. Een ma het vir haar graad 1’tjie na die wedstryd gevra: “Het julle gewen Boetie?”
Sy antwoord: “Ek weet nie. Ek het nie gevra nie.” Hy het net lekker gespeel en dit is sekerlik belangriker as ‘n wen, veral vir ses tot agtjariges.
