Local newsNewsNews

Onse oom Jan help waar hy kan

Van straatligte regmaak tot motors opbou, Jan Meiring is nou besiger as voordat hy afgetree het.

VAALPARK. – Word daar paaie of ligte in Sasolburg of Vaalpark reggemaak, kan jy maar weet Oom Jan Meiring is daar.

Hy is al vir jare lid van AfriForum se Sasolburg tak en die twee dorpe lê hom na aan die hart.

Jan is in Vereeniging gebore en was op sy dag in Noordskool Primêr en Taaibos.

Sy oupa-hulle het in Parys gebly en sy kinderjare van kamp en visvang langs die Vaalrivier sal hom altyd bybly.

Amptelik is hy al die afgelope dekade ‘n pensioenaris. Nie dat hy maklik stilsit nie.

“Man, ek het nou minder tyd as toe ek gewerk het,” beduie hy. Jan het as passer en draaier gekwalifiseer, maar het die meeste van sy werkjare as elektriese tegnikus by Eskom spandeer.

“Ag ja, en toe tree ek af en begin werk vir ‘n domestic manager en dit is gelyk aan moeilikheid,” lag hy lekker. Hy en Wildie sal 23 Augustus hul 50ste huweliksherdenking vier.

“Ons ken mekaar so goed, ons maak mekaar se sinne klaar.” Die egpaar het twee seuns en twee dogters en almal bly nog in die Vaaldriehoek. Dan is daar drie kleinkinders.

Jan is lief daarvoor om met sy hande te werk en het op sy dag al vele motors se enjins oorgebou of reggemaak.

“Ek gee nie om oor die model nie, as hy wiele het, dan werk ek op hom.” Hy het ‘n groot seëlversameling met heelwat eerstedag koeverte.

“Ek het seëls wat uit die Eerste Wêreldoorlog dateer en het op ‘n stadium seëls van 70 lande gehad. Maar, nou se dae kry mens nie eens meer seëls nie,” sug hy.

Na al die jare, het hy steeds ‘n passie vir hengel en maak hy graag ou visstokke reg. Een van die lekker dinge in die lewe vir hom, is ‘n sterk koppie rooibostee.

Dit vat hom dadelik terug na sy ouma se kombuis, waar daar maar altyd ‘n geel erdeketel met rooibostee op die koolstoof geprut het.

“Niks soos sterk rooibostee om jou weer woema te gee vir ‘n volgende projek nie,” deel hy sy wysheid met ‘n glimlag.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button