NewsNewsSport

Dubbel sege vir o.11’s

Knapgedaan aan die Old Vaaltonians se o.11 krieketspan.

VANDERBIJLPARK. – Die o.11 krieketspan van die Old Vaaltonian Sportklub het Sondag, 12 Mei hul staal gewys deur albei hul wedstryde te wen.

Die klub het rondte 2 van die Diadora Jozi Cup in samewerking met die Central Gauteng Lions aangebied.

Wits SEDP Blue se draaibalbouler het amok gemaak

Vroegoggend het die Vaaltonians met 33 lopies teen Jeppe geseëvier en laatmiddag het hul Wits SEDP Blue met 13 lopies ore aangesit.

In die wedstryd teen Wits SEDP Blue was die Valies op ‘n stadium stewig in die saal met 100/2.

Hulle het egter vasgeval in die Power Plus beurte. Tydens hierdie boulbeurte kry die kolwers dubbel punte vir lopies en grenshoue, maar sou hul ‘n paaltjie verloor, word 10 lopies afgetrek.

Wits SEDP Blue se draaibalbouler het amok gemaak en teen die tyd wat die Power Plus verby was, het Old Vaal se jongelinge by die 30 lopies verloor en was daar ses paaltjies plat.

Grenshou! Die Old Vaaltonians se o.11’s het hul beurt op 103/6 afgesluit.

Die stertkantkolwers het egter met mening ingeklim en na 20 boulbeurte het hulle ‘n stewige 103/6 op die telbord gehad. Die o.11’s se volgende wedstryde is Sondag, 19 Mei teen Wanderers Black en Khosa Navy by Waterstone College.

Back to top button