Carien is swak en moeg na 3de chemo, maar veg dapper voort
Sy moet Vrydag weer in Bloemfontein wees vir 'n opvolgondersoek
SASOLBURG. – Vir Carien van Dalen, ‘n 16-jarige kankerlyer van die dorp, is die behandelingspad nog steil, maar sy is vasbeslote om die siekte te oorwin.
‘n Massiewe kankergewas van 7kg aan haar een eierstok is in Januarie in Bloemfontein se Universitas-hospitaal verwyder, maar ‘n lang pad lê nog voor om te verseker dat sy die siekte heeltemal gaan klop.
Sy is nou terug in Sasolburg nadat sy van 9 tot 13 Mei in Bloemfontein vir haar derde sessie chemoterapie was. Sy moet op 24 Mei terugkeer na Universitas vir haar opvolg-ondersoek.
“Carien was verlede week met tye baie deurmekaar van die chemo en ook baie naar, met geen eetlus nie,” sê haar ma, mev. Chrissie Jacobs.
“Die dokter sê haar nierfunksie het effens verbeter, maar daar is ongelukkig permanente nierskade as gevolg van die groot gewas wat haar ingewande vasgedruk het. Carien is nog baie swak en haar lyfie is moeg. Sy sukkel ook nog met baie lae bloeddruk waarvoor sy voorgeskrewe medikasie neem.”
Carien en Chrissie reis later die week weer na Bloemfontein vir die opvolgondersoek op 24 Mei, waarna sy op 6 Junie haar vierde chemo gaan ontvang. Hulle moet dan tot 11 Junie in Bloemfontein bly, wanneer ‘n CT-skandering gedoen gaan word om te bepaal of die chemoterapie suksesvol is.
Die gesin het nie ‘n voertuig van hul eie nie en spaar ywerig sodat hulle genoeg geld sal hê om iemand te betaal om hulle na Bloemfontein te neem, aangesien daar nie altyd plek in die hospitaalbussie is nie. Carien moet nou ook spesiale soort kos eet wat aanpasbaar is met haar behandeling. Enige donasie vir dié uitgawes sal opreg waardeer word.
“Ons kan nie genoeg dankie sê aan almal wat ons tot dusver met skenkings bygestaan het nie,” sê Chrissie.
Enigiemand wat ‘n bydrae wil maak, kan dit inbetaal aan: Mev. C.M. Jacobs, Capitec Sasolburg, rekeningnommer: 1690486145, takkode: 470010.





