Local newsNewsNews

Ek sê maar net: Dit was Natte en Sappe

RUBRIEK. - 'n Toets tussen die All Blacks en die Springbokke kan nie kers vashou met die stryd wat tussen die Natte en Sappe geheers het nie.

RUBRIEK. – Met die verkiesing net so om die draai is al wat lamppaal is weer belaai met plakkate.

Die politiek-gelaaide atmosfeer laat my dink aan die stories wat Ma altyd vertel van die verkiesingstyd in haar grootword jare.

Daar was net twee partye, die Nasionale Party en die Suid-Afrikaanse Party. Hul ondersteuners was bekend as die Natte en Sappe. En die lot het nie langs dieselfde vuur gesit nie.

As jou pa ‘n Sap was, dan moes jy gereeld hoor: “Ja, jou pa is mos ‘n Sap”, asof dit die begin en einde van alles was.

So seg my ma en sy sal weet. My Oupa Havenga was ‘n Sap en boonop het hy perde gespeel. Oeee, dit was groot sonde destyds.

My ouma Bessie was weer ‘n groot Nasionalis. Kyk, sy en oorle Eerste Minister Vorster se vrou, Tienie het saam gebak vir die kerk. Groter as dit kon jy nie daardie jare nie.

Ouma het geweier om saam met oupa stembus toe te ry. Sy het gewag dat die Nat-kar haar kom optel en na die stemlokaal toe neem.

Die motors wat die mense na die stembus vervoer het was almal goed gemerk in of die Natte of die Sappe se kleure.

Daardie jare het almal geweet wie stem vir watter party, want jy het jou stembriefie by jou party se tent gekry en dan gaan stem.

Ma sê Sondaemiddae was ook ‘n gedoente. Was jare voordat Suid-Afrika televisie gekry het en mense had niks om te doen na hul middagslapies nie.

Tot brei op Sondag was sonde, volgens my oorle Sap oupa. Dan het die families bymekaar gaan kuier vir boeretroos en Jan Smuts tertjies vir die Sappe en Hertzog tertjies vir die Natte.

Basies dieselfde tertjie, maar die een het ‘n gebakte skuimlagie op en die ander nie.

Soos die kaffeine en pyptabak begin werk het, het die tonge losgeraak en kort voor lank is daar politiek gesels.

Ma sê glo dit of nie, maar êrens was daar altyd ‘n Nat onder die Sappe of ‘n Sap onder die Natte.

Nie lank nie of die broeders was kwaad vir mekaar en is die krose bymekaar gemaak vir huis toe gaan tot volgende Sondag.

Dan is die koffiepot maar weer op die koolstoof gesit en die tertjies uitgehaal. Sela!

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Check Also
Close
Back to top button