Maak gereed vir Die Laaste Rat
Valies dink en droom groot, Die Laaste Rat is nog 'n droom wat verwesenlik word.
VANDERBIJLPARK. – Wanneer Vaaldriehoekers besluit om iets te doen, dan gebeur dinge. Vat nou maar vir Stephen Venter, beter bekend as die man agter Bring Hoop Vaaldriehoek.
Hy het met die blink gedagte vorendag gekom om ‘n motorprogram die lig te laat sien.

Een wat oral uitgesaai kan word, met drie flinke aanbieders wat elke week ‘n motor toetsbestuur, ‘n plaaslike besigheid ondersteun en êrens by ‘n besienswaardigheid in die area uithang.
So gesê, so gedaan. Saterdag, 11 Mei is die eerste episode van Die Laaste Rat opgeneem.
Stephen, Reine Aspesberger en Zarlene Hugo is die brawe trio voor die kamera en agter die stuurwiel, terwyl Marius Dreyer regisseur en produksieleier was en Ettienne van Rensburg ingespan is om te help met die kamerawerk.
Die eerste skote is in die omgewing van Harry’s Butchery verfilm en later is daar by Echo Park in Sasolburg ‘n braai gehou.
Om die nuwe program te vier en ook om die ruim bakwerk van die motor wat toetsbestuur is te vertoon.
Die Laaste Rat beloof om ‘n informele, humoristiese goed voel beeld op die Vaaldriehoek en die voertuie wat toetsbestuur word te bied.
Die program sal vir eers op Die Laaste Rat se sosiale media platforms uitgesaai word, wat facebook en YouTube insluit.
