Local newsNewsNews

Wetenskap + kuns = whisky

Van skooldae ekperimente in die kombuis tot sy eie distillery met vele meer idees wat in sy agterkop broei.

VANDERBIJLPARK. – Dit het alles begin die dag toe Pieter van Helden ‘n ingenieurskool by die NWU in Potchefstroom bygewoon het.

Dit was die eerste keer wat hy gesien het hoe ‘n “vrugte gemors” gedistilleer word om ‘n alkoholdrankie te verkry.

“Ek was nog op skool en het die skool se distillasie ‘kit’ geleen om eksperimente te doen by die huis,” vertel hy.

Pieter bewonder die kleur van een van die Helden whiskys. “Dis nou ‘n vol sirkel. Na die matriekuitslae het ek ‘n selfgebroude bier opgehou vir ‘n koerantfoto en vandag is dit my eie whisky.”

In die proses het hy een oggend 03:00 ‘n ontploffing in die kombuis veroorsaak. “My ouers het net gesê maak skoon en het weer gaan slaap,” lag hy.

Die gogga het hom gebyt en deur die jare het hy gereeld die een of ander bier of brandewyn in sy agterplaas gebrou.

Nadat hy nege onderskeidings verwerf het, het Pieter ‘n B.Sc. graad in chemie aan die NWU gevolg, alvorens hy sy doktoraal aan die Universiteit van Stellenbosch in kwantum chemie verwerf het.

Vandag is hy steeds besig met navorsing as projekleier by SASOL. ‘n Pos wat hy al sedert 2009 beklee.

Alhoewel hy dit geniet om navorsing te doen en met innoverende produkte saam met sy span vorendag te kom, het hy steeds ‘n groot passie om verskeie produkte in goeie gehalte alkoholiese verversings te omskep.

Sy vriende moet gewoonlik die proewerk doen en dit was juis op ‘n kerkraadskamp wat hulle hom die idee gegee het om op whisky te konsentreer.

Dit was in 2018 en vandag is hy die eienaar en distilleerder van Helden Distillery geleë in die mooie Vredefortkoepel net buite Parys.

“Ons het ons eerste whisky in die grendelstaattydperk gemaak in 2020. Whisky neem ‘n minimum van drie jaar om te verouder, so ons kon dit eers in Desember 2023 op die mark sit.”

Pieter is ‘n unieke kombinasie van wetenskaplike en kunstenaar. By hom bestaan die boks nie, hy skep sommer sy eie, soos die vaatjies wat hy ontwerp het vir Helden se unieke Afrika-styl whisky.

Hy floreer op kreatiwiteit, perfeksie en innovasie en geniet dit om Saterdae gaste op toere deur Helden Distillery te neem en whisky-proesessies aan te bied.

Naas sy navorsing en eksperimente is hy ook ‘m musikant wat bedrewe is met die viool.

Pieter is getroud met sy universiteitsliefde Maureen, en saam het hul vier talentvolle spruite wat eendag dalk in pa se voetspore kan volg.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Gerda Bruinette

Gerda Bruinette, senior journalist and columnist at Vaalweekblad, writes with compassion and a keen sense of human nature. Always striving to find positive and feel-good stories. Email: gerda@mooivaal.co.za
Back to top button