Local newsNews

NG Suid geskok deur kerkvroue se ontvoering by Pinksterdiens

Kerkgangers wat deur die gebeure getraumatiseer is en 'n behoefte het om daaroor te praat, kan met die leraar, dr. Eon Coetzee, in verbinding tree.

 

VANDERBIJLPARK. – Agt skurke se “kerkbesoek” het verlede Vrydagaand (17 Mei) op ‘n misdaaddrama uitgeloop toe hulle twee vroue uit die NG Gemeente Vanderbijlpark-Suid se parkeerterrein ontvoer het.

Die drama het net na 18:00 begin toe kerkgangers reeds in die kerk was vir die Pinksterdiens. Slegs die naweekkoster en haar vriendin was nog buite besig. (Hulle word mevv. A en B genoem omdat hulle nie in die koerant geïdentifiseer wil word nie).

Mev. A is kerkkombuis toe om sop en broodjies gereed te kry vir opdiening na die diens, terwyl mev. B nog buite oog gehou het. Agt swartmans het skielik in twee aparte voertuie opgedaag en mev. B gevra of dit die AGS Vanderbijlpark was. Sy het verduidelik dat dit ‘n NG-gemeente is, maar het dadelik snuf in die neus gekry oor dié onverwagse “kerkgangers”. Die volgende oomblik het hulle die kerkterrein se hek, wat nog op ‘n skrefie oop was, oopforseer en toegang tot die perseel gekry. Mev. B is gegryp en in een van die skurke se voertuie ingedwing, waarna drie van hulle met haar weggery het. Die vyf ander het in die parkeerterrein agtergebly, vermoedelik om voertuie te steel.

Toe mev. A uit die kombuis kom en sien dat haar vriendin weg is en die hek van sy spoor af gedruk is, het sy geweet daar is groot fout. Sy wou hulp in die kerkgebou gaan soek maar die vyf verdagtes het skielik uit die parkeerterrein te voorskyn gekom en haar aan die arms beetgekry. Sy het haar hewig teëgesit en in die proses kneus- en skaafplekke opgedoen. Sy is uiteindelik al spartelende in die verdagtes se voertuig ingeboender. Die verdagtes wou in die kerk ingaan maar mev. A het deurgaans gepleit dat hulle die lidmate met rus moes laat. Die vyf het toe in hul tweede voertuig met haar weggery.

Die eerste groep verdagtes het intussen met mev. B deur SW5 se strate gery terwyl sy gedwing is om haar kop laag te hou. Sy het gesien dat een van die mans met ‘n mes gewapen was. Hulle het haar ‘n rukkie later ‘n ent van die kerk af afgelaai. Sy is te voet terug kerk toe, waar sy getraumatiseerd in die diens ingestorm en uitgeroep het dat mev. A ontvoer is. Die manlike lidmate is buite toe terwyl die vroue en kinders in die kerkgebou beveilig is.

Intussen het die ander groep verdagtes mev. A, wat al redelik bejaard is, na ‘n hele paar angswekkende minute aan die agterkant van ‘n nabygeleë winkelsentrum afgelaai. Sy het haar pad in die donker probeer terugvind en het ‘n sekuriteitswag van A-Sec Security in sy motor teëgekom, wat haar teruggeneem het kerk toe. Dr. Eon Coetzee, leraar van die gemeente, het in dié stadium op die toneel aangekom nadat hy verpligtinge by ‘n ander gemeente gehad het.

“Dit was ‘n baie slegte ervaring en baie traumaties vir almal wat daar was. Ons is die Here dankbaar dat niemand ernstig seergekry het nie,” sê hy.
Hy het kerkgangers wat deur die gebeure getraumatiseer is en ‘n behoefte het om daaroor te praat, genooi om met hom in verbinding te tree. Berading is ook vir mevv. A en B gereël.
Dr. Coetzee sê bykomende sekuriteitsmaatreëls is getref om lidmate se veiligheid te verseker.

Dr. Eon Coetzee, leraar van die NG Gemeente Vanderbijlpark-Suid.
Die Parkeerterrein van die NG Gemeente Vanderbijlpark-Suid waar die twee vroue ontvoer is.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button