Ek sê maar net: Bloed spat, einde van Goliat
RUBRIEK. - Dit was 'n geveg wat baie laat (eintlik verskriklik vroeg) plaasgevind het. Vir iemand wat nooit boks kyk nie, het ek myself behoorlik ingeleef. Lees meer...
RUBRIEK. – Boks. Dis ‘n sport waarvan ek nie veel weet nie. Ek onthou wel hoe ek en pa oor die radio geluister het toe Gerrie Coetzee vir Leon Spinks in 1979 uitgeslaan het.
Verlede Saterdagnag besluit ons om die groot boksgeveg te kyk. Usyk vs Fury.
“Hulle reken die hoofgeveg sal net na 23:00 begin,” vertel ek met my oog op Oom Google. Hulle was geheel verkeerd.
So is die televisie aan en ons beleef die laaste twee voorgevegte. Nee, heiden mens, ek het geen idee wie het teen mekaar geveg nie, maar mens het net gesien bloed spat.
“Kyk vir hul voete en hoe hul beweeg,” het ek raad gekry, maar al waaraan ek kon dink was die uitstekende koerantfoto’s wat mens kon neem.
Met die groot geveg wat nader kruip beloer ek weer vir oom Google. Moet bietjie meer weet van die boksers om te besluit watter een ek wil ondersteun.
Vind ek uit die een is ‘n Engelsman en die ander is van die Oekraïne. “Ek hoop Usyk wen. Sy land is in ‘n oorlog gewikkel en ek hou nie van die Engelse rugbyspan nie,” laat blyk ek my laatnag logika.
Lank na middernag maak die twee boksers hul verskyning onder luide gejuig en met baie fanfare. Fury is ‘n reus van ‘n man. Usyk ook, maar hy lyk sommer klein.
“Ek dink ‘n paar Springbokke sal daai Brit in die oë kan kyk,” val ek weer terug op my verwysingsraamwerk, rugby.
Die Fury kêrel jaag my bloeddruk binne minute op met sy arrogansie, narre manewales en rondspringery selfs toe die volksliedere gespeel word.
Dis Dawid teen Goliat en kort voor lank byt ek ‘n nael af, en moedig Oleksandr Usyk aan asof hy Afrikaans kan verstaan en my al die pad tot in Saudi-Arabië kan hoor.
Skoon aangedaan toe die man begin huil nadat hy die geveg gewen het. Ek was reg, hy het dit vir sy familie, sy oorlede pa en sy land gedoen.
“In my opinion I’ve won,” hoor ek die Engelsman en ek vererg my van vooraf. “Wonder hoe sal daai Brit lyk as Malcolm Marx of Eben Etsebeth met hom klaar is. Ek dink hulle het meer spiere as hy,” besluit ek daar en dan.
Is ek na dese ‘n boks-ondersteuner? Nee wat, ek bly maar by rugby en krieket, maar knapgedaan Usyk. Ek is bly jy het gewen.
