Fonnies bou hul drome, letterlik
Kleurvolle kreatiwiteit was aan die orde van die dag by Fonteine se eerste Lego-ekspo.
SASOLBURG. – Die eerste Lego Expo by die Primêre skool Fonteine het blokkie vir blokkie vir hope opwinding en pret gesorg.
Batman en die Lego-man het die deelnemers by die ingang welkom geheet en die kompeteerders het met hul boublokkies van alle groottes en soorte ingestap.

Die skoolsaal was van hoek tot kant gepak met tafels en stoele waar elke graadgroep ‘n spesiale plek gehad het.
Vir party wou die oomblik te groot raak toe hul ouers buite moes gaan wag terwyl hulle bou, maar hulle het al gou die senuwees vergeet.

Stiptelik om 16:00 is daar met ywer en konsentrasie weggespring. Elkeen kon bou wat hul wou en die beoordelaars het onder meer gekyk na kreatiwiteit en oorspronklikheid.
Daar is vulstasies, motors, ‘n seerowerskip en selfs ‘n papegaai gebou. Dit was goed om te aanskou hoe die jongspan hul verbeelding vrye teuels gee en die paar uur van bou geniet het.
Eerste plekke is toegeken aan Dané Weideman (gr. 1 – 3), Abraham Furter (gr. 6 – 7), Juanika Kruger (gr. 4 – 5) en Alida du Toit (gr. R).
Ouers en deelnemers was dit eens dat hierdie nie die laaste boublokkie-uitdaging by die skool gaan wees nie.
Die skool was ingenome dat leerders van ander skole, onder meer Parys en LS Kollegepark ook aan die pret deelgeneem het.
