Musiekspele van ‘n Kunstedraai aard
Dit was 'n goedvoel, terugsit en ontspan ondervinding om Kunstedraai se jong talent in aksie te sien.
SASOLBURG. – Kunstedraai kunstesentrum het die talente van hul Akademie vir Dramakunsstudente saamgesnoer met hul On Pointe Studio se balletdansers vir’n besonderse produksie van musiek, dans, drama, kleur en klank.

Hul produksie, The Sound of Music: Of all times – A Pantomime is voor ‘n stampvol Etienne Rousseau Teater opgevoer.
Dit was die storie van Maria en Kaptein von Trapp, maar ook nie. Daar was ‘n kinkel in die kabel en so saam met die nonne wat wonder hoe hul Maria kan hanteer, het die Mad Hutter van Alice in Wonderland sy verskyning gemaak.
Grease se Sandy en Danny Zuko het hul buiging gemaak, gevolg deur Johnny en Baby van Dirty Dancing. Alles om die storie van musiek te vertel.

Die jong dansers het die gehoor weggevoer en die skilpad op pad na sy pienk oorfone aan die anderkant van die verhoog het harte gesteel.
ADK direkteur Franciska van der Merwe het gesê die doel van die produksie was om Kunstedraai se 10de verjaardag te vier asook “dat elke leerling dit geniet, dat elke gehoorlid vir ‘n uur en ‘n driekwart ontspan!”
Uit kommentaar op Kunstedraai se Facebookblad is dit duidelik dat hierdie produksie in sy doel geslaag het.

Delina Hennop: “Was awesome, het dit baie geniet, baie geluk aan jul almal.”
Riana Pretorius: “Puik produksie! Baie geniet. Baie geluk met 10 jaar by Kunstedraai.”
Marinda Haarhoff: “Ek het dit so baie geniet. Welgedaan!”
