Oud-staatmaker van Dutton Motors oorlede
Wyle mnr. Johan Calitz se familie onthou hom as 'n sagte, rustige mens wat altyd ander probeer help het.
SASOLBURG. – ‘n Geliefde oud-inwoner van die dorp, mnr. Johan Calitz (79), het op 14 Mei sy stryd teen septisemie in ‘n hospitaal in Witbank verloor. Wyle mnr. Calitz sal deur baie inwoners van die Vaaldriehoek onthou word as ‘n staatmaker by Dutton Motors in Sasolburg, waar hy 40 jaar in die werkswinkel gewerk het. Hy was nie net gewild onder sy kollegas nie maar het ook jarelange vriendskappe met baie van die onderneming se kliënte opgebou.
Mnr. Calitz is op 3 Mei 1945 in Pretoria gebore en het aan die Laerskool Irene en Hoërskool Kemptonpark skoolgegaan voordat hy in die laat 1960’s sy vakleerlingskap by Catalina Motors, ‘n Volkswagen-handelaar in Kemptonpark, begin het. Hy en sy vrou het mettertyd na Sasolburg verhuis, waar mnr. Calitz vanaf 1 Junie 1970 tot met sy aftrede op 31 Mei 2010 aan Duttons verbonde was.
“Ons as familie sal hom onthou as ‘n sagte, rustige mens wat altyd ander probeer help het – ‘n regte omgeemens. Hy was ‘n baie goeie man vir my skoonma, ‘n baie goeie pa vir sy kinders en ‘n voorbeeld vir elkeen. Iemand na wie jy kon opkyk,” sê sy skoondogter, mev. Tanja Calitz.
Mnr. Calitz het in 2008 ‘n traumatiese voorval beleef toe hy in Sasolburg deur ‘n kaper wat sy Volkswagen Polo wou steel, in die ken geskiet is. Die koeël het die spiere en senuwees wat afgaan na sy linkerarm beskadig en hy het ongelukkig nooit weer die volle gebruik van sy arm herwin nie.
Nadat sy vrou in 2013 oorlede is het hy nog tot 2020 in Sasolburg aangebly en toe na sy jongste dogter in Witbank verhuis. Hy was sedert 2021 ‘n inwoner van die Edenpark-ouetehuis in Witbank, waar hy gou baie vriende gemaak het. “Hy was baie geliefd daar en bekend daarvoor dat hy sy mede-inwoners op verskillende maniere gehelp het. Dit het weer eens boekdele gespreek oor die soort mens wat hy was,” sê Tanja.
Hy is in April vanjaar in die Life Cosmos Hospitaal in Witbank opgeneem nadat hy ‘n maagkiem en septisemie opgedoen het. Hy het ‘n maand lank teen die siekte geveg totdat hy op 14 Mei oorlede is.
“Ons familie is dankbaar dat ons die geleentheid gehad het om hom te kon groet. Hy was ‘n wonderlike mens wat vir altyd ‘n spesiale plek in ons harte sal hê,” sê Tanja.
Mnr. Calitz word oorleef deur sy dogter Riëtte en haar man André, sy seun Marius en dié se vrou Tanja, en sy jongste dogter Anelda en haar man Herman, sowel as vier kleinkinders.
* In hul huldeblyk op Facebook beskryf Dutton Motors mnr. Calitz as ‘n geliefde en gerespekteerde oudkollega, ‘n legende en vriend van Duttons. “Hy het ‘n onuitwisbare merk op ons lewens gelaat met sy vriendelikheid, omgee en toewyding.”
