Local newsNews

Elskè kyk terug na ‘n jaar van pyn én blydskap

Elskè was 'n matriekleerling en doelwagter van die Hoërskool Dr. Malan se eerstehokkiespan toe sy in Maart verlede jaar 'n volledige histerektomie moes ondergaan weens kanker.

 

MEYERTON. – Boodskappe van bemoediging is die afgelope weke van heinde en ver ontvang vir Carien van Dalen nadat Vaalweekblad ‘n opvolgberig oor dié 16-jarige kankervegter van Sasolburg gepubliseer het. Carien ontvang tans intensiewe chemo-behandeling nadat ‘n kwaadaardige gewas van 7 kg vroeër vanjaar aan haar eierstok ontdek en verwyder is.
Nóg ‘n jong Vaaldriehoekse meisie wat maar te goed weet deur watter beproewing Carien gaan, is Elskè de Villiers van Meyerton, wat verlede jaar op die ouderdom van 17 met kanker gediagnoseer is.

Elskè was ‘n matriekleerling en doelwagter van die Hoërskool Dr. Malan se eerstehokkiespan toe sy in Maart verlede jaar ‘n volledige histerektomie moes ondergaan nadat sy met kanker van die eierstokke gediagnoseer is. Haar skool, die algemene publiek van Meyerton en die res van die Vaaldriehoek het behoorlik laer om dié vriendelike meisie getrek om haar met insamelingspogings te ondersteun en haar emosioneel by te staan. ‘n Moeilike, pynlike behandelingspad het voorgelê, maar vandag kyk Elskè en haar gesin met verligting terug na die afgelope jaar se gebeure. Die ingrypende behandeling was alles die moeite werd: Daar is tans geen teken van kanker nie.

“Nadat ek die histerektomie in Maart 2023 gehad het, het ek van April tot Julie verlede jaar chemoterapie ontvang. Ek is weer in die waakeenheid opgeneem nadat my bloed se soutvlakke so laag gedaal het dat daar ‘n gevaar was dat my hart kon gaan staan. Ek moes altesaam 8 pinte bloed kry. In September het ek my tweede groot operasie gehad toe my blindederm, galblaas en die helfte van my lewer verwyder moes word. Verdere teratoomgewasse wat op my organe was, moes ook afgeskraap word,” sê Elskè.

In November verlede jaar het sy ‘n CT-skandering ondergaan en die goeie nuus gekry dat sy in remissie is. Haar regterlong, wat aan die begin van haar siekte 80% vol vog was, is ook skoon.
Elskè moet steeds elke drie maande laat bloed trek en vir opvolgondersoeke na ‘n kankerspesialis gaan, en elke ses maande ‘n skandering laat doen. Sy sal ook vir die res van haar lewe hormoonaanvullings moet gebruik.
Omdat haar operasies en mediese behandelings so intensief was, kon sy verlede jaar nie haar matriekjaar voltooi nie en en sy doen dit vanjaar deur Jae²learning Academy.
“Ek wil graag my matriek klaarmaak en dan gaan leer vir ‘n fisioterapeut,” sê sy.

Sy het dwarsdeur die moeilike tye positief gebly en vasgehou aan haar sterk geloof in die Here. “My raad aan Carien en ander meisies wat deur dieselfde siekte gaan, is om ook positief te bly, maak nie saak hoe sleg dinge lyk nie. Hou aan bid en vertrou op liewe Jesus. Hy sal altyd by jou bly deur moelike tye. Moenie dat die duiwel met jou kop smokkel nie. Onthou: God gee die moeilikste veldslae vir Sy beste soldate.”

  • Elskè moet later hierdie week weer vir ‘n opvolgondersoek gaan. Sy en haar ma het onderneem om ons op hoogte te hou as daar enige verandering in haar toestand is. Vaalweekblad, en sekerlik al ons lesers, sal Elskè in ons gedagtes en gebede hou. 
Elske de Villiers was die energieke hokkie-doelwagter van haar skool se eerstespan voordat sy vroeg verlede jaar met kanker gediagnoseer is.
Elske de Villiers van Meyerton vandag

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button