Longontsteking eis dapper Ouma Han
Die familie bedank graag al die individue en instansies wat Ouma Han in haar laaste dae met soveel sorg bygestaan het.
VEREENIGING. – Mev. Johanna Ellen Beatrice de Beer (94), onder haar groot nageslag bekend as Ouma Han, was lewenslank bekend as ‘n ystervrou wat kans gesien het vir enige uitdaging. Op 20 Mei het sy egter haar lang stryd teen gesondheidsprobleme in die Trimed Mediese Sentrum verloor.
Volgens een van haar kleindogters, Annelien van Basten, het Ouma Han deur die jare talle groot uitdagings oorkom, waaronder kanker, twee gebreekte heupe, talle groot rugoperasies en Covid. Sy het keer-op-keer by die dood omgedraai maar nie toegelaat dat dit haar onderkry nie. Op die ou einde was dit egter longontsteking wat haar lewe geëis het.
“Sy het letterlik vanaf 2020 agteruitgegaan van ’n selfversorgende mens wat op haar eie gewoon het en haar sake self bestuur het, tot iemand wat permanent bedlêend was, maar sy het nooit opgegee nie en baie moedig baklei,” sê Annelien.
Ouma Han is op 19 Oktober 1930 in die Levubu-omgewing in Limpopo gebore as een van nege kinders. Dit is ook daar waar sy die liefde van haar lewe, Jantjie de Beer, ontmoet het en getroud is. Hulle het sowat 35 jaar gelede na die Vaaldriehoek verhuis en was 58 jaar getroud toe Jantjie in 2008 na ’n lang siekbed oorlede is.
Ouma Han het die afgelope jare naby haar kinders in Sonlandpark en Meyerton gewoon, waar brei, bak en lees haar gunsteling aktiwiteite was.
“Hoewel sy ’n sterk persoonlikheid en ’n skerp sin vir reg en verkeerd gehad het – én baie hardkoppig kon wees – was sy ’n juweel van ’n mens met ’n groot en goeie hart. Sy was geliefd onder almal wat haar geken het. Haar hande het vir niks verkeerd gestaan nie en vakansies was haar huis ook haar kleinkinders se huis. Sy was die gom wat ons familie aanmekaar gehou het,” onthou haar naasbestaandes.
Ouma Han se familie bedank graag Trimed se personeel, wat haar in die laaste nege maande van haar lewe so mooi versorg het. “Ons bedank ook Sharp Ambulance Services wat altyd gehelp het om haar tussen Trimed en die hospitaal te vervoer, en suster Annemarie en die personeel by Midvaal-hospitaal wat die laaste maand so goed na haar omgesien het. ’n Spesiale dankie ook aan dr. M. Msibi wat uit haar pad gegaan het om alles te doen wat sy moontlik kon, en Avbob Drie Riviere en ds. Stefan Stassen wat die afskeidsproses vir ons so maklik as moontlik gemaak het. Ons waardeer julle almal opreg.”
Ouma Han word oorleef deur twee susters, twee skoonsusters, drie dogters, Hettie Brits, Ria Kruger en Magda Nolte, skoonseun Christo Nolte, sewe kleinkinders, vyf aangetroude kleinkinders, 12 agterkleinkinders, en een agter-agterkleinkind.


