Bekende Facebook-vriend sterf na beroerte en hartaanval
"Hy sou sy laaste gee sodat mense net nie moet sukkel nie," sê wyle Roger se dogter.
VEREENIGING. – ‘n Bekende inwoner van die stad, mnr. Roger Rothner, is op 19 Mei na verskeie gesondheidsuitdagings oorlede.
Baie van Vaalweekblad se Facebook-groeplede sal Roger onthou vir sy gereelde grappies op die groep, maar ook vir sy manhaftige standpunte oor alles van finansiële sake tot sport, politiek en kinderopvoeding. Vaalweekblad het Roger leer ken as ‘n man wat sy stellings noukeurig deurdink het en nie geskroom het om sy saak op die man af te stel nie, hetsy dit oor munisipale dienslewering, “social grants”, of motorbestuurders se onhoflike padgebruik gegaan het. Sy standpunte het altyd vir ywerige aanlyn-debatte gesorg.
Roger is in 1950 gebore as Albertus Petrus Rothner in George, waar hy grootgeword en sy skoolloopbaan aan Hoërskool Die Bult voltooi het. Hy het hom sowat 26 jaar gelede in die Vaaldriehoek kom vestig, waar hy ‘n skuldinvorderaar was.
“My pa was ‘n pa duisend, ‘n man wat geleef het vir sy kinders en kleinkinders en wat mense altyd gelukkig wou sien,” sê sy dogter, Isabel Golden. “Hy sou sy laaste gee sodat mense net nie moet sukkel nie. My pa was nie net baie lief vir mense nie maar het ook ‘n groot liefde vir diere gehad. Hy was baie lief vir die Here en het ‘n hart van goud gehad. ‘n Man wat altyd gereed was met ‘n woord van bemoediging of ‘n lekker grappie.”
Sy kinders en kleinkinders sal veral sy interessante stories uit sy kinderdae onthou, wat hy graag met hulle gedeel het. So ook sy geliefkoosde sêding: “Wanneer die lewe begin druk, onthou dat die son more weer sal skyn en alle probleme net tydelik is”.
Roger het nege jaar gelede vier hartaanvalle en ‘n beroerte gehad, maar goed herstel. Volgens Isabel was hy ‘n ware vegter. Hy het onlangs weer ‘n ligte beroerte en hartaanval gehad en is op 19 Mei oorlede. Sy gedenkdiens is 25 Mei in die Ou Apostoliese Kerk in Peacehaven, Vereeniging, gehou.
Hy word buiten Isabel ook oorleef deur nog ‘n dogter, Rochelle Janse van Rensburg, en ses kleinkinders.



