Geliefde Pa en Oupa Hennie na ‘n lang en vol lewe gegroet
Wyle Hennie Steynberg het nie net diep spore in die sakewêreld getrap nie, maar ook sy deel vir sport in die Vaaldriehoek gedoen

VAALPARK. – ‘n Wandelende ensiklopedie wat iets van alles geweet het. ‘n Padaanwyser wat enige plek vinniger as ‘n GPS kon kry. ‘n Rigtinggewer wat op vele terreine van die lewe ‘n vaste koers vir sy kinders en kleinkinders aangedui het.
Só beskryf familie en vriende mnr. Hennie Steynberg wat op 12 Mei, slegs drie dae na sy 91ste verjaardag, oorlede is. Buiten al sy ander kwaliteite was wyle mnr. Steynberg ook ‘n briljante man wat dekades lank diep spore in die plaaslike en internasionale plastiekbedryf getrap het.
Hy is op 9 Mei 1933 gebore en het in Zimbabwe (destyds Rhodesië) grootgeword, waar hy reeds op ‘n jong ouderdom as grootwildjagter naam gemaak het. Hoewel hy nooit vir trofeë gejag het nie, was hy in sy jong dae die nommer een jagter wat deur die bostelegram gekontak is as ‘n olifant ‘n bedreiging vir klein nedersettings ingehou het, sê een van sy dogters, Ronel Gous.
Hennie en sy vrou Louise het hulle in 1966 in Sasolburg gevestig waar hy by AECI aangesluit het. In 1986 het hy en Louise hul eie fabriek, H&L Plastics, op die dorp geopen. Na hul aftrede het Hennie steeds raadgewende werk gedoen en onder andere gehelp om ‘n baie suksesvolle plastiekafdeling by Jakes Jacobs se herwinningsonderneming, DJ Afvalpapier, te begin.
Hennie was nie net ‘n harde werker nie maar het in sy jonger jare ook sy deel vir sport in die Vaalgebied gedoen. Hy het tot op die ouderdom van 40 vir die Vaaldriehoek rugby gespeel en nog tot op 70 aan marathons deelgeneem. Sy liefde vir sport het hy ook na sy kinders en kleinkinders oorgedra. Hy is tot onlangs nog gereeld saam met sy Yorkie-hondjie, Advokaat, langs die rugbyveld gesien om die jongklomp te kom ondersteun.
Sy familie beskryf hom as ‘n ware “gentleman” met ‘n sagte hart, wat die Here, sy vrou, kinders en groot nageslag met ‘n passie liefgehad het. Hy het selfs ‘n boekie met die titel “Die Agapé Liefde van God in die Huwelik” geskryf.
“Ons pa het ons ma op die hande gedra en haar ook versorg tot op haar einde. Hy was ‘n awesome en fenominale pa. ‘n Pa wat enige dogter sou wou hê. Ons het altyd veilig, beskermd en geliefd gevoel,” sê Ronel, by wie hy tot met sy afsterwe in Vaalpark gewoon het.
Wyle mnr. Steynberg se lewe is op 17 Mei met ‘n gedenkdiens by die Nuwe Lewe Tabernakel in Sasolburg gevier. Die diens is deur ‘n ou vriend, pastoor Lukas Niemand, gelei. Hy word oorleef deur vier dogters, tien kleinkinders en nege agterkleinkinders, met nog enetjie op pad.
