Local newsNews

Vaal se ‘Sport-ouma’ sterf sag in haar slaap

"Afgesien van haar eie kleinkinders was sy ook 'ouma' vir die hele Vaaldriehoek se kinders."

 

VANDERBIJLPARK: – “Ouma Ans het geleef daarvoor om ‘teenwoordig’ te wees. Die feit dat sy altyd daar was vir almal maak dit nie maklik om tot siens te sê nie, maar ons het ongelooflike goeie herinnering om aan vas te hou.”
Só lui ‘n mediaverklaring deur familielede nadat mev. Ans Schoeman Dinsdag, 11 Junie, rustig in haar slaap aan natuurlike oorsake gesterf het. Baie inwoners van die Vaaldriehoek het haar deur die jare leer ken vir haar groot liefde vir, en betrokkenheid by sport.
Mev. Schoeman is op ‘n plaas in die Lindley-omgewing gebore maar het in Vanderbijlpark grootgeword, waar sy aan die Laerskool Hendrik van der Bijl en Hoërskool Vanderbijlpark skoolgegaan het.

Hoewel sy eerstens ‘n anker vir haar gesin, kinders en kleinkinders was, het sy ook buitenshuis gewerk – eers as administrateur by haar skoonseun Kobus se onderneming en later as sekretaresse by Spectrum-Atletiekklub. Toe dié klub sluit, het sy by ArcelorMittal s’n betrokke geraak.
“Sy het die kroeg en tydhouding hanteer en het elke jaar vir meer as 35 jaar die Comrades as ondersteuner bygewoon. Sy was welbekend as ‘Ouma Ans’ wat deelnemers voor die wedloop geregistreer het en agterna jou medalje vir jou oorhandig het met die mooiste glimlag, blouste oë en die stoutste sêgoed,” onthou haar familielede. In haar later jare het sy steeds alles moontlik gedoen om as ondersteuner by elke sport- of kultuurdag van haar kleinkinders en agterkleinkinders te wees. Sy het hulle ook graag in die middae na hul aktiwiteite toe vervoer.

“Afgesien van haar eie kleinkinders was sy ook ‘ouma’ vir die hele Vaaldriehoek se kinders. As jy nog nie in haar groen Sentratjie gery het nie, het jy die beste Uber van jou lewe misgeloop. Mens het altyd geweet dat Ouma iets lekkers in haar sakke of koelhouer gehad het. Sy was vreesloos, en vir baie mense was sy ‘n skouer om op te huil. Belangrikste van alles, haar huis was altyd oop vir enigiemand – haar deure was letterlik nooit gesluit nie.”
Buiten dat sy geleef het vir haar familie, het sy ook gehou van hekel en brei, inkleur, koskook en blokkiesraaisels en sy kon die heerlikste vrugtekoek bak. “Ouma se familie-etes was altyd ‘n feesmaal, veral haar peper-groenboontjies, kerriehoender en malvapoeding,” sê haar familie.
Mev. Schoeman word oorleef deur haar man, Faan, met wie sy 63 jaar getroud was, sowel as drie kinders, skoonkinders, ses kleinkinders, nege agterkleinkinders, en baie vriende en ander familie. Haar troosdiens word Dinsdag, 18 Junie om 12:00 by Sentraalgemeente in Lion Cachetstraat 9, Vanderbijlpark, gehou.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button