Centurions se pensioenaris-‘bikers’ en VF+ help verlig die nood
Danksy vanjaar se ondersteuning kon 22 gesinne van kospakkies voorsien word en meer as 30 huishoudings met komberse en klere gehelp word.

VANDERBIJLPARK. – Die Pensioenaris-motorfietsryers van die Centurions Motorfietsklub het onlangs vir die derde agtereenvolgende jaar met die Vryheidsfront Plus hande gevat om verligting aan behoeftige inwoners van die dorp te bring.
Volgens mnr. Cobus Cato van die VF Plus het die motorfietsgemeenskap, onder leiding van die Pensioenarisgroep, weer eens gereageer op die noodkreet van die gemeenskap om te midde van die koue wat ervaar word, in te spring en te help met die insameling van noodsaaklike artikels.
“Die motorfietsgemeenskap se harte is tien keer groter as hul motorfietse en ‘n massa items is deur hulle ingesamel,” sê Cobus.
Onder hierdie items was komberse, kussings, baadjies en truie, vroueklere, mans-, kinder- en babaklere sowel as nie-bederfbare kos.
“Hierdie bydrae van die motorfietsgemeenskap sal voorwaar groot verligting vir baie mense bring en ons bedank die motorfietsryers opreg vir hul onbaatsugtige opofferings. Danksy vanjaar se ondersteuning het ons daarin geslaag om 22 gesinne van kospakkies te voorsien en meer as 30 huishoudings gehelp met komberse en klere,” sê Cobus.
