Local newsNews

Na 45 jaar saam is die troukar steeds daar!

Pietman en June vier hul huweliksherdenking saam met hul rooi blits uit die jare toet

VANDERBIJLPARK. – Toe Pietman van Rooyen 45 jaar terug ‘n trouring aan sy droomvrou, June, se vinger steek, was sy droomkar ook deel van die dag: ‘n Bloedrooi 1973 Ford GT. Met die viering van hul 45ste huweliksherdenking verlede Saterdag, was die troukar steeds in al sy vurige glorie teenwoordig.

Piet woon al van 1961 af in die Vaaldriehoek maar June, wat in Kitwe, Zambië grootgeword het, het eers in 1976 hierheen verhuis. Volgens die egpaar se seun, Pieter, het sy ouers mekaar in 1977 per toeval ontmoet. Dit was liefde met die eerste oogopslag en die paartjie is op 16 Junie 1979 in die Nederduitsch Hervormde Kerk in Mumfordstraat getroud. Die Ford GT is as troukar ingespan.

Piet was in sy werksjare ‘n tegnikus by die destydse Ysor, en June was aanvanklik ‘n tuisteskepper tot sy by die plaaslike motorhandel betrokke geraak het.

Piet is al lankal ‘n versamelaar van antieke voertuie en het deur die jare bekend geword vir sy kennis van motors en hul enjins. In die vroeë 1980s was hy een van die haastige manne wat Sondagaande aan die “dices” in Vereeniging se hoofstraat deelgeneem het. Sy rooi Ford GT het menige Chevys en ander warmgemaakte motors op sulke aande op hul neuse laat kyk. Die Ford GT is al meer as 50 jaar in die familie se besit en is steeds ‘n gewilde, skaars versamelstuk wat met trots bewaar word.

Die Van Rooyens het verlede Saterdag hul huweliksherdenking by die Rosendal-landgoed gevier, waar almal weer die spoggerige rooi blits van nader kon beskou. Die egpaar sê hulle het nie regtig ‘n resep vir hul lang en gelukkige huwelik nie, maar met genoeg liefde en vergewensgesindheid kan ‘n paartjie baie sakke sout saam opeet. Die Van Rooyens is geseën met twee seuns wat vandag suksesvolle sakemanne in die wildbedryf, arbeidsverskaffing, vervoerbedryf en motorhandel is.

Pietman en June vandag. Die rooi blits is steeds een van hul kosbaarste versamelstukke.
Pietman en June van Rooyen op hul troudag in 1979. Die Ford GT is links te sien.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button