Danksy lesers kry Allan ‘n waardige laaste groet
"As familie wil ons graag baie dankie sê aan almal wat hulle harte oopgemaak het vir ons en vir Allan," sê sy ma.
VANDERBIJLPARK. – ‘n Ma se hartroerende versoek vir hulp om ‘n waardige begrafnis vir haar seun te gee, het verlede week nie op dowe ore geval nie. Nadat Vaalweekblad mev. Charmaine van der Westhuizen se noodroep op die koerant se webtuiste en Facebook-profiele geplaas het, het lesers saamgespan en binne twee dae genoeg geld geskenk om die uitstaande bedrag vir die begrafnis te dek.
Charmaine se seun, Allan (38) het op 4 Junie weens septisemie in die Kopanong-hospitaal gesterf. Dit was nadat sy regterarm ‘n tyd gelede geamputeer moes word en infeksie deur sy hele liggaam versprei het. Hoewel hy hom voor sy siekte graag met houtwerk en tuinwerk besig gehou het, was hy ten tyde van sy dood werkloos. Geld vir ‘n behoorlike begrafnis was daar nie.
Nadat Martins Begrafnisdienste in Petterstraat, Vanderbijlpark van die geval gehoor het, het hulle aangebied om die begrafnis op Woendag, 12 Junie, teen ‘n baie verlaagde tarief te behartig. Charmaine kon egter steeds nie die uitstaande bedrag van R8 000 bykom nie. As laaste uitweg het sy Sondag, 9 Junie, by Vaalweekblad om hulp aangeklop. Die koerant se aanlynlesers het nie op hulle laat wag nie en dadelik begin bydra. Hulporganisasies soos Bring Hoop het ook van hulle laat hoor en teen Dinsdag was daar genoeg geld vir die begrafnis sodat dit Woensdag kon voortgaan. “Daar was selfs genoeg geld vir eetgoedjies na die verrigtinge,” sê ‘n dankbare Charmaine.
“Allan was ‘n saggeaarde, liefdevolle mens… altyd bereid om sy medemens te help. Almal het altyd gesê hy lyk soos Leonardo DiCaprio se tweeling,” sê sy. Hoewel die hartseer nog groot is, bring dit ‘n mate van troos dat haar seun op ‘n mooi en waardige manier gegroet kon word.
“As familie wil ons graag baie dankie sê aan almal wat hulle harte oopgemaak en vir ons donasies geskenk het – maak nie saak hoe klein of groot dit was nie. Weet net, ek en my kinders waardeer dit uit die diepte van ons harte. Julle het dit vir ons moontlik gemaak om Allan ter ruste te lê. Vir elke boodskappie van medelye, bemoediging en liefde wil ons vir almal baie dankie sê. Dit beteken vir ons so baie in hierdie hartseer tyd. Mag die Here elkeen ryklik seën.”
Allan word buiten sy moeder ook oorleef deur ‘n jong seun en dogter, sy susters, swaers, hul kinders en sy vriende.
SIEN FOTO’S VAN DIE BEGRAFNIS HIER ONDER:






Wyle Allan van der Westhuizen.
