Vaal se Gerrit strooi ook goud oor Gansbaai!
Hoewel hy steeds heelwat sakebelange in die Vaa;driehoek het, sprei Gerrit ook vlerke na die Wes-Kaap.

Vanderbijlpark het deur die jare al verskeie visionêre sakemense opgelewer wat ‘n onmiskenbare stempel op die streek se ontwikkeling afgedruk het. Gerrit Meyer is onbetwisbaar een van die grootste verskilmakers. Sommige sê hy het die vermoë om alles wat hy aanpak in goud te laat verander.
Gerrit is op 8 November 1953 in die Wes-Kaap gebore en het in Caledon grootgeword. Na skool het hy B.Com (Rek) deur Unisa studeer en by Boland Bank gewerk, waar hy die geleentheid gekry het om by takke dwarsoor die land te gaan oudit voordat hy uiteindelik in Vanderbijlpark kom anker gooi het.
Hy was maar ‘n jeugdige 26 toe hy besluit het om Park Reisagentskap by die legendariese Vanderbijlparkse sakeman, wyle Harry van der Walt, oor te neem en te begin afbetaal. Dié agentskap het uiteindelik een van die suksesvolste van sy soort in die land geword.
Daarby het dit nie gebly nie. Met ‘n aanvoeling vir ‘n goeie koop het Gerrit deur die jare verskeie eiendomsontwikkelings aangepak – soos die plaas Doornhoek wat hy 30 jaar terug in die Vredefort-koepel saam met vriende gekoop en begin ontwikkel het. Dit is tot vandag toe ‘n lushof. Dit is gevolg deur die koop van oom Kerneels Terblanche se plaas, Vaalwal on Vaal, met sy 5 km rivierfront. ‘n Deel van die plaas is in erwe onderverdeel en vandag is dit ‘n ware paradys waar sowat 54 beleggers die natuurskoon kan geniet.
Gerrit het ook die plaas Rietfontein aan die Vaaldam saam met ‘n sakevriend gekoop en suksesvol begin ontwikkel. Nadat hy ses erwe op die Emfuleni-gholflandgoed gekoop het, het hy en sakevriende Willem Brooks en Eric Schoeman ‘n grootse ontwikkeling by River Spray langs die kampus van die NWU (Vaal) aangepak. “Met die minigholfbaan, swembad, vasmeer- en ander fasiliteite is dit regtig ‘n pragtige plek om in te woon,” sê Gerrit.
Intussen het hy ook die Sweiden-gebou in Vanderbijlpark se sakesentrum gekoop en in agt eenhede laat opdeel. “Die sakesentrum trek swaar weens desentralisering. Ek voel mens moet ons middedorp beskerm en soveel besighede as moontlik hier behou,” sê hy.
Hoewel Gerrit steeds meeste van sy tyd in die Vaaldriehoek deurbring, is hy en sy vrou Christine deesdae ook ‘n paar maande per jaar in Gansbaai, ‘n kusdorp in die Wes-Kaap. Hier sit hy ook nie stil nie. Hy en tien Vanderbijlparkse sakevriende het grond by Perlemoenpunt gekoop en beoog om dit te help ontwikkel in ‘n gholfbaan wat dalk uiteindelik deel van die “Goue Roete” van gholfbane tussen Kaapstad en George gaan vorm.
Een van die mees indrukwekkendste projekte wat hy die afgelope tyd saam met aandeelhouers soos dr. Pierre Nel en bouer Fanie Theron in Gansbaai aangepak het, is die bou van ‘n mediese sentrum wat uiteindelik ‘n noodeenheid, dokterskamers, ‘n radiologie-, dialise- en fisioterapie-afdeling, sowel as ‘n apteek en koffiewinkel sal insluit.
“Hierdie ontwikkeling gaan ‘n geweldige omwenteling in die hele Gansbaai-omgewing bring. Dis ‘n lekker uitdaging en hou mens uit die kwaad,” sê Gerrit.
Dié gesellige man met ‘n skatkis vol wyshede, grappies en staaltjies steur hom nie aan stres of vertoon nie. Met sy geliefde Christine, hul drie dogters, skoonseuns en ses kleinkinders wat stewig in sy hart sit, is die saak reg. Gee hom daarby ‘n visstok in die hand, en die lewe is ‘n lied!



