Local newsNews

Na ‘wonderwerk’ verander stoute kuierplek toe in gebedshuis

Hierdie was een van vele interessante nuusgebeure wat deur die jare in die Vaaldriehoek afgespeel het.

 

Vaalweekblad herdenk vanjaar sy 60ste bestaansjaar. Om dié spesiale verjaardag te vier, kyk Vaalweekblad vanjaar terug na interessante gebeure wat deur die jare die nuus gehaal het. Hierdie is een daarvan…

‘n Nuwe kuierplek, genaamd Die Withuis, het in Oktober 2000 op Vanderbijlpark se kleinhoewes geopen en vinnig onder baie manne van die omgewing gewild geraak. Baie mense het bakhand gefluister dat dié plek huismoleste gaan veroorsaak en dalk ‘n huwelik of drie gaan opbreek.

Dit was gou duidelik dat Die Withuis meer as net ‘n gewone kuierplek was. Dit is ook as ‘n gesellin- en ontkleedansklub bedryf. Sommige mense het sommer hardop gesê dis niks anders as ‘n bordeel nie.
Op 12 Oktober 2000 is die eerste mannedag daar gehou en letterlik honderde mans het die funksie bygewoon, waar daar al om die halfuur ontkleedanse te sien was. Die dag was so ‘n sukses dat dit ‘n gereelde instelling geword het. En so het dit vir jare aangegaan.

Die Withuis se eienaars, Riaan en Monica (Vaalweekblad weerhou hul van), was in daardie stadium reeds bekende sakemense wat ook ‘n suksesvolle bou-onderneming gehad het.
En toe gebeur daar ‘n ding wat alles verander het: Riaan maak kennis met mnr. Nel Haasbroek, wat hom in Junie 2009 saamnooi na die Driehoek Mannebediening se mannekamp. Die res kan net as ‘n wonderwerk beskou word: Riaan gee gedurende die kampnaweek sy hart aan die Here en bel net daar vir Monica om te sê Die Withuis se deure moet sluit. Toe hy die volgende aand terug is in Vanderbijlpark, het Monica reeds die naambord en alle verwysings na die klub verwyder. Net soos Riaan het sy besluit om haar hart vir Jesus te gee.

“Trane van blydskap het gevloei. God se liefde is aan ons geskenk,” het die egpaar agterna aan Vaalweekblad gesê. Na Die Withuis se sluiting het talle sakemense wat nog nie die Lig gesien het nie, die egpaar genader met ‘n versoek om dit te huur om die wellustige aktiwiteite voort te sit. Riaan en Monica het egter voet by stuk gehou: Die Withuis sou nooit weer in sy vorige formaat heropen nie. Voortaan sou dit net gebruik word vir funksies soos troues en kinderpartytjies. ‘n Groot massabiduur is ook deur die egpaar gereël.

Riaan en Monica het die families wat weens Die Withuis se vorige duistere bedrywighede in hartseer gedompel is, in Vaalweekblad om verskoning gevra.
* Vaalweekblad het die egpaar nou na 15 jaar weer probeer kontak om te hoor wat intussen van hulle geword het, maar kon hulle ongelukkig nie opspoor nie. Volgens Monica se Facebook-blad is sy steeds by Christelike opleiding betrokke.

** Weet jy van interessante mense of nuusgebeure uit die ou dae wat Vaalweekblad kan opvolg in ons 60ste bestaanjaar? Indien wel, stuur asseblief ‘n whatsapp-boodskap na Retha by 083 246 0523. Begin jou boodskap met “OU NUUS”. Sakeondernemings wat vanjaar groot verjaarsdae vier, kan na dieselfde nommer whatsapp as ons julle geskiedenis mag opteken en meer oor julle dienste kan vertel.

 

Monica en Riaan saam met ‘n paar van hul personeellede in die jare toe Die Withuis nog ‘n ontkleedans- en gesellinklub was. Hoewel hulle destyds openlik vir Vaalweekblad geposeer het, verberg ons hul gesigte.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button