VANDERBIJLPARK. – Louisa de Coning (39) sukkel stadig op die krukke. Elke tree veroorsaak pyn.
Haar enkel en been het sleg seergekry in die motorfietsongeluk waarin sy en kollega André Gerryts betrokke was op 19 Junie.
André is oorlede en Louisa is na ‘n staatshospitaal vervoer. Hier is bevestig dat sy dringend ‘n operasie op haar been moet ondergaan, maar die operasie is heeltyd uitgestel.
Louisa se voet is in ‘n tydelike spalk geplaas en sy het baie pyn verduur. Sakeman Fanie de Jongh het van die situasie verneem en besluit om ‘n plan te maak.
Deur sy Vanderbijl Community Support Group (‘n geregistreerde nie-winsgewende organisasie) is daar geld ingesamel.
Na samesprekings met Dr. Pieter Lategan kon Louisa deur Dr. Ferdi Hartzenberg opereer word in Cormed Privaat Hospitaal teen goeie afslag.
“Ek en Malcom Wentzel en die Fkn Army groep het bygedra. Daar was ook mense wat tussen R10 en R5 000 in die rekening inbetaal het,” het Fanie laat weet.
Teen 26 Junie kon Louisa die ortopeed gaan sien en die operasie is 28 Junie gedoen.
“Hulle moes ‘n pen in my onderbeen sit, maar die dokter is tevrede,” vertel Louisa.
“Ek kan nie genoeg dankie sê vir Oom Fanie, Cormed Hospitaal, ER24, my baas Hendrik Ebertsöhn en sy vrou Claudette, ons LCF gemeente en mense van die gemeenskap nie. Ek weet nie wat sou ons sonder julle gedoen het nie.”
Haar man Eugene stem saam. “Ek het daardie dag so groot geskrik. Ek was die heeltyd by haar in die hospitaal, al wou die staatshospitaal my ‘n paar maal daar uit boender.”
Louisa is getraumatiseer deur die ongeluk en die gebeure daarna. “Ek het nie eenkeer my bewussyn verloor nie. Ek het alles gesien gebeur. Ek kry nagmerries oor die trok wat op ons afkom,” sê sy.
Sy mis ook vir André en sê hulle het alles saam gedoen van dress-up tot make-up.
Sy sterk nou by die huis aan en sal 11 Julie weer die dokter sien om die steke uit te haal en vier weke later sal daar weer x-strale geneem word.
“Ek hoop om 12 Julie te kan begin werk.” Louisa is al jare deel van Hendrik se bakspan by Blissful Baking.
“Hy ondersteun my so baie en het klaar laat weet hy rig die werkplek in om dit vir my makliker te maak,” glimlag sy en vee trane af.
“Dis ‘n wonderwerk dat ek lewe. Ek glo die Here het nog baie vir my om te doen. Dankie vir almal en vir Eugene en my seuns, Louie, Theo en Rico wat selfs in die nag opstaan om my badkamer toe te help.”
