Jackie nou Assistent Goewerneur
Jackie van Waveren van die Rotarië Klub van Vanderbijlpark is onlangs bevorder tot 'n hoër vlak by die Rotariërs.

VANDERBIJLPARK. – Jackie van Waveren, ‘mama’ Jackie vir baie, is onlangs aangewys as die nuwe Assistent Goewerneur (AG) van die Rotariër Klubs in Johannesburg.
Jackie is al vir jare lid van die Rotariër Klub van Vanderbijlpark waar sy al verskeie kere as president verkies is.
Oor haar nuwe taak is sy baie opgewonde. “Ek is dankbaar vir die geleentheid om as AG te dien vir die Rotariër Klubs van Johannesburg Oos, Befordview en Johannesburg Suid 101.”
Sy dien al jare die gemeenskap van die Vaaldriehoek en het onlangs nog ‘n Paul Harris for Service above Self toekenning ontvang.
Jackie is ‘n boorling van Vanderbijlpark wat op verskeie rade dien. Sy is egter nie net ‘n gebore leier en organiseerder nie, sy is ook die een wat doen.
Haar spore lê diep in die Vaal en dis goed dat sy nou ook haar Rotariërvlerke kan sprei. Naas haar dienswerk, is sy ook betrokke by die GTCoC en is sy die besigheidseienaar van Alco Beton.