Local newsNews

Sorgsame suster benodig nou sélf mediese hulp

Christelle se medikasie kos tussen R23 000 en R30 000 per maand, maar sy is steeds dankbaar dat sy deel van dié proefgroep kan wees.

 

MEYERTON. – Vir jare het Vaaldriehoekse pasiënte Christelle Herbst as ‘n uitstekende verpleegsuster by instansies soos Mediclinic Vereeniging en Midvaal-hospitaal leer ken. Dié omgeevrou is egter nou self ‘n pasiënt wat gevorderde behandeling benodig.

In Desember 2016 is Christelle met Non-hodgkins Limfoom gediagnoseer en daar is dadelik met behandeling begin. Ongelukkig het die chemoterapie nie die gewenste resultate gehad nie.
“Ons was op die punt om moed op te gee toe ‘n kollega my gehelp het om deel te word van ‘n kliniese proef in Amerika. Die medikasie was immuunterapie en ons keuse was om vir maande daar te gaan bly, of dit in te voer. Kostegewys het ons besluit om in te voer. Ons was onseker van die newe-effekte maar het dit aangepak en dit was suksesvol,” sê Christelle.

In 2019 het die limfoom teruggekom en sy het slegs chemoterapie ontvang. “Ek het by die dood omgedraai maar weer eens genade gekry en deur dit gekom.”

In Maart vanjaar was daar wéér slegte nuus: Sy is weer gediagnoseer met Non-hodgkins Limfoom, maar dié keer fase 4.

“Ek is so geseënd om weer toegang tot die Amerikaanse proewe te hê en die kanker word met vier verskillende terapieë behandel. Ons slaan dit letterlik so hard as wat ons kan met chemoterapie, immuunterapie, radio-immuunterapie en intratumor-inspuitings waarmee ons die massas direk aanval. Hierdie behandeling kos duisende dollars en ons is bitter bevoorreg om toegang tot dié wêreldklas medikasie te hê,” sê sy.

Die probleem is dat dit elke maand ingevoer moet word en dat sy en haar gesin ook haar ander mediese kostes self moet betaal: ‘n Bedrag van tussen R23 000 en R30 000 per maand. Omdat die behandeling haar baie siek maak, moet sy tydens haar behandeling haar werk as kliniese risiko bestuurder by ‘n mediese versekeraar tydelik opsyskuif. Sy kan dus nie meer op haar normale inkomste reken nie.

Deur alles is haar man en twee kinders die dryfkrag agter haar wil om gesond te word. “My droom van kleins af was altyd om ‘n mamma te wees en dis vir hulle wat ek baklei.”

Afgesien van haar persoonlike uitdagings wil Christelle steeds bewustheid oor haar siekte bevorder, veral onder jonger mense tussen 25 en 45 jaar.

“Limfoom is n limfklierkanker, maar wat dit so gevaarlik maak, is dat limfkliere reg oor jou liggaam versprei is. Jy moet absoluut oplettent wees vir die moontlike simptome: Enige geswelde kliere, onbekende koors, onverklaarbaarde pyn en erge moegheid. Enige geswelde kliere moet onmiddellik deur ‘n dokter ondersoek word,” is haar raad.
Sy het die afgelope agt jaar al heelwat motiveringspraatjies vir SANBS gedoen en sê dis vir haar belangrik dat haar storie ‘n verhaal sal wees van ‘n gesin wat bymekaar staan, mekaar ondersteun en mekaar liefhet ten koste van alles.

“Maar die belangrikste is dat daar altyd hoop is. ‘n Diagnose is presies net dit: ‘n Diagnose. Dit bepaal nie hoe ons toekoms gaan lyk nie. Daar is altyd hoop, en ons gesin het baie hoop. Ons glo en weet dat ek hierdie rondte ook sal wen. My droom is om my kinders te sien groot word en om saam met my man oud te word. Ek glo met my hele hart dat dit ook die Here se plan vir my is.”

* Mense wat Christelle graag met ‘n bydrae vir haar medikasie wil bystaan, kan ‘n inbetaling doen aan C. Herbst, Standard Bank spaarrekening: 10198493221, verwysing: Lymphoma. Haar Back a Buddy-blad kan besoek word by https://www.backabuddy.co.za/campaign/christelles-lymphoma-journey

Mev. Christelle Herbst se gesin is haar dryfkrag om limfoomkanker te klop.

 

Mev. Christelle Herbst.

 

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button