Local newsNews

Ouma San behaal mylpaal van 103 jaar

Sy kom uit 'n familie van mense wat 'n hoë ouderdom bereik het.

 

VANDERBIJLPARK. – ‘n Gesonde leefstyl, goeie gene en die belangrikste, God se genade. Dit is aan dié faktore wat mev. San Pretorius en haar familie haar besonder lang lewe toeskryf. Sy en haar geliefdes het Sondag, 30 Junie, haar 103de verjaardag gevier.
Ouma San is in 1921 met die nooiensvan Van Heerden in Bloemfontein gebore. Sy en haar eerste man, Barend Jakobus du Plessis, is met ses kinders geseën, van wie twee nog leef. Die egpaar se nageslag het intussen uitgebrei tot 16 kleinkinders, 30 agterkleinkinders, 18 agter-agterkleinkinders en twee agter-agter-agterkleinkinders.

Na haar eerste man se dood is Ouma San weer twee keer getroud en het albei dié eggenote ook oorleef. Sy het agt jaar gelede na die Vaaldriehoek verhuis om nader aan haar familie te wees en woon tans by haar jongste seun in Vanderbijlpark.
Volgens haar skoondogter, mev. Susan du Plessis, was Ouma San in haar jonger jare ‘n baie flukse mens wat vir enige uitdaging kans gesien het. Sy en haar eerste man het byvoorbeeld in hul vrye tyd ses kerke help bou. Sy is steeds ‘n toegewyde kind van die Here en lidmaat van die Deo Credo-gemeente, waar sy graag met oorgawe saamsing.

Ouma San is relatief gesond en neem slegs bloeddrukmedikasie. Haar visie en gehoor het egter baie agteruitgegaan en sy het groot uitdagings waar dit kom by haar geheue en spraak. Sy kan ook byna nie meer loop nie. Voordat haar sig ingegee het, was sy baie lief vir Bybellees, brei, bak, en woordsoekspeletjies.
Sy kom uit ‘n familie van mense wat ‘n hoë ouderdom bereik het: Haar pa was met sy afsterwe 94 en haar oupa het ‘n volle 104 jaar geword.

Mev. San Pretorius (103) saam met haar seuns, Bennie en Flip du Plessis.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button