Ope hande gee terug aan die gemeenskap
Mense se lewens word op 'n weeklikse grondslag verander
VANDERBIJLPARK – Oop hande = Oop harte.
Sedert die ontstaan van die Open Hands Project in 2017 het die Vaaldriehoekse filantroop, Zander Steyn, ‘n omroeper van 90.6FM, en Eugene van Eeden van Armature Winders honderde mense se lewens verander.
Elke Woensdagoggend om 09:00 rol die trane in hierdie radiostasie se studio.
“Ons probeer weekliks om iemand se lewe te vergemaklik wat deur moeilike omstandighede gaan.
Die kontant bedrag is groot en waar bekommernisse daardie oggend hul skouers lamgelê het, sien en ervaar ons saam met mense die absolute verligting en trane van dankbaarheid.
Dis bitter selde dat ons gesigfoto’s plaas. Dit is meestal net hande wat die koevert vashou,” vertel Zander. Op 26 Junie het Open Hands, 90.6FM en NG Kerk Heilbron hul grootste skenking nog gemaak.
Die ontvanger hiervan was heel gepas Jackie Brits van Eagle Wings Shelter in Riversdal wat ook destyds die projek se eerste ontvanger in 2017 was.
Volgens Zander-hulle kom Eagle Wings al hoe nader aan volle onafhanklikheid. “Dit is iets besonders.
Daar word nou vir maande vooruit kos aangekoop, die hoenderhok word ‘n realiteit en die koolstoof word reggemaak. Als is ‘n groot seën. ‘n Donateur het ook 40 sakke hout geskenk,” vertel hy opgewonde. Die projek het ook sy babaskoene uitgeskop en is nou ook in Desember besig om elke dag van die maand iemand se lewe op te kikker.
