Geliefde sanger bewys ‘n ‘boer maak ‘n plan’
'n Goeie vertoning, oop harte en hande en 'n probleem is opgelos.
MEYERTON – Wat maak ‘n man as jou verloofde moet gaan vir ‘n groot rugoperasie, maar die mediese fonds betaal nie vir alles nie?
Anton Myburgh, bekende Afrikaanse sanger, het besluit om ‘n plan te maak, en die plan het Saterdag, 13 Julie gerealiseer.
Sy ondersteuners en biker-vriende het die middag by die Savanna #Net1netjie Sports Bar & Roadhouse byeengekom vir ‘n liefdadigheidskonsert om fondse vir sy verloofde, Elize Visagie, se operasie in te samel.

Daar was vele items opgeveil en Anton het bekoor met al sy groot treffers, van die immergewilde Biker Angel tot by Anna van Saldanha. Asof dit nie al bederf genoeg was nie, het hy ook vir ‘n wyle verdwyn en as Frikkie weer verskyn.
Ou Frikkie is nie sommer van hier nie, hy het al die danspassies, die kuif en die boepens om almal aan die lag te hou.

Die middag was ‘n groot sukses en teen laataand het Elize laat weet sy kan al die ekstra kostes betaal. Die datum vir die operasie is vir eers uitgestel omdat haar ystervlakke tans te laag is en sy tot 25 Julie behandeling daarvoor moet ontvang.
