‘n Droom word waar by OK Liquor Porto!
Vaaldriehoekse egpaar wen 'n Navara Double Cab-bakkie ter waarde van sowat R600 000 in OK Liquor se Mzansi-kompetisie!
VANDERBIJLPARK. – Toe Leon en Desiré Kruger van Vaalpark onlangs ‘n telefoonoproep ontvang om hulle in te lig dat hulle ‘n splinternuwe Nissan NP200-bakkie in ‘n OK Liquor-kompetisie gewen het, het hulle gedink dit is ‘n swendelstreek.
Hulle het egter versigtig optimisties geraak toe hulle later op die app “True Caller” sien dat die oproep wel van OK se hoofkantoor af gekom het en dat Nissan se hoofkantoor in Kaapstad ook probeer het om hulle te bereik. Uiteindelik het hulle besef dit is waar: Hulle was die wenners van ‘n vuurrooi Navara Double Cab-bakkie ter waarde van sowat R600 000 in OK Liquor se Mzansi-kompetisie!
Die nasionale kompetisie het van 24 April tot 7 Julie gestrek en drie Nissan NP200-bakkies kon gewen word. Leon het onthou dat hulle op 26 April op pad was na ‘n kampnaweek toe hy vinnig by OK Liquor Porto in Carterstraat, Vanderbijlpark ingespring het om ses Castle Lights vir die naweek te koop. Met die betaling het hy sy “Count On”-kaart geswiep en alles van die transaksie vergeet – tot verlede week toe hy die nuus ontvang het dat hy die bakkie gewen het.
“Dit voel steeds soos ‘n droom. Wonderlike dinge soos hierdie gebeur gewoonlik mos net met ander mense,” sê ‘n opgewonde Desiré. “OK Liquor Porto sal ons beslis weer sien!” Die egpaar is ywerige kampeerders en kan nie wag om met hul blinknuwe voertuig na hul volgende kampeerbestemming te ry nie!


