‘n Spaanse eerste vir die Vaal
Die gehoor was weggevoer na Spanjé in 'n kleurryke, voetstamp vertoning

VAALPARK – Vrydagaand, 19 Julie het die No Name Village by The No Name Bar and Family Restaurant die perfekte agtergrond gebied vir die Vaaldriehoek se eerste Spaanse Tablao.

Tablao Flamenco Lunares is aangebied deur Carli Olivier, Compañía Sophia en Carli Spanish Dance Productions met gaskunstenaar Lourdes Zelaya van Perú.
Die saal was tot barstens gepak, met kelners wat gesukkel het om by die gaste te kom. Die musiek en dans het opgemaak vir die ongemak van tafel-deel saam met vreemdes.
Carli en haar dansers is gewoonlik te sien in van die land se beste teaters, dit was ‘n aanpassing om nie van ‘n hoogte die platform waarop hul gedans het te kon sien nie.

Die ritmiese klap van kastanette, hande en voete het die gehoor weggevoer. Die dekor in die No Name Village – kleurryk, met ou wêreldse sjarme – het bygedra om die illusie te skep dat mens jouself in ‘n klein dorpie in Spanjé kon bevind.
Tydens ‘n Tablao (‘n tradisie wat sy ontsaan in Spanjé in die 1950’s gehad het) word die gehoor aangemoedig om hulself te geniet, deur saam te klap, voete te stamp en uit volle bors te Olé!
Na die vertoning het gelukwensinge op Carli se Facebookblad ingestroom. Lucinda van Os het dit dalk die beste opgesom: “What a show! Awesome Carli Olivier Bresser, we loved it!”