Voormalige Valies nou ‘Bohemian Girls’
Gemeenskapskoor bied opera aan met voormalige Valies wat die hoofrol deel
Marilie van der Bank en Etresia Booysen is al vir 14 jaar koorvriendinne en in Augustus deel hul die hoofrol in die WA Mozart gemeenskapkoor se produksie van die opera, The Bohemian Girl.
Marilie is oorspronklik van Vereeniging en Etresia van Vanderbijlpark. Na skool en universiteit het beide in die Roodepoort omgewing beland, waar Marilie haar drome as veearts uitleef en Etresia hare as akademiese program bestuurder.

Die twee het ontmoet toe hul destyds die Vaaldriehoek in die Suid-Transvaalse Jeugkoor, Colla Voce, verteenwoordig het. Hulle het by die WA Mozart gemeenskapkoor aangesluit en verlede jaar het die koor aangekondig dat hul ‘n opera gaan aanpak.
“Ek en Marilie deel die hoofrol as Arline (The Bohemian Girl). Sy gaan twee optredes sing en ek twee. Daar is baie hoë note en ons stemme sou nie andersins gehou het nie,” sê Etresia.
Hulle is opgewonde oor die kans om deel van so ‘n groot produksie te wees. “Die WA Mozart gemeenskapskoor bestaan uit ‘gewone’ mense. Ons is nie professionele sangers nie en dit maak die hele produksie so uniek.”
The Bohemian Girl is die eerste keer in 1843 op die planke gebring en is bekend vir die liedjie, I dreamt I dwelt in Marble Halls.
Kaartjies vir die vertoning, wat 10 en 11 Augustus in die Roodepoort teater opgevoer word, is beskikbaar teen R300 per persoon by quicket.co.za.
